Afrikaans as inheemse taal: Dit is waarom selfbeskikking meer as ʼn luukse is

2021-10-01
Dr. Wynand Boshoff

Die huidige debakel oor die status van Afrikaans as inheemse (of uitheemse) amptelike taal van Suid-Afrika, lê die grondliggende mislukking van die skikking van 1994 bloot. Dit is net jammer dat almal wat aan die gesprek deelneem, dit blykbaar nie besef nie.

Voor die huidige debat bespreek word, moet ‘n mens na die grondliggende vraag kyk: Is Afrikaans inheems, of nie? Die VF Plus se antwoord is onomwonde "ja", sonder om te ontken dat iemand uit 'n ander hoek die teenoorgestelde gevolgtrekking kan maak.

Die rede vir albei antwoorde is eenvoudig:

Afrikaans stam uit 'n Nederlandsgegronde omgangstaal van die sewentiende eeu, wat later tot Nedersettingsnederlands benoem is. Dit bestaan uit 'n vereenvoudigde Nederlandse grammatika en 'n Nederlandse woordeskat deur elke taal wat in die destydse VOC verryk is. Dit was niemand se moedertaal nie, slegs 'n manier om mekaar oor taalgrense in handel en nywerheid te verstaan.

Slegs in die gebied wat later Suid-Afrika sou word, het dit die moedertaal van verskeie taalgemeenskappe geword. "Oosgrens Afrikaans" is die historiese variëteit wat deur trekboere gebruik is en so die binneland ingetrek het; Kaapse Afrikaans het binne direkte bereik van die Kaapse hoofstad ontwikkel, waar dit ná 1800 gedeeltelik deur Engels verdring en sterk daardeur beïnvloed is; en Oranjerivier Afrikaans wat deur die nageslag van Khoi- en San-groepe gepraat is, nadat vernietigende pokke-epidemies hul oorspronklike taalgemeenskappe laat verbrokkel het.

Oosgrens Afrikaans het in die twintigste eeu die grondslag van standaard-Afrikaans as amptelike taal geword. Hier op Suid-Afrikaanse bodem het dit tot 'n taal van letterkunde, wetenskapsbeoefening en regering ontwikkel.

Die "uitheemse" kenmerke van hierdie taal is duidelik; net soos die "inheemse" kenmerke daarvan. Die meningsverskil is nie taalkundig nie, maar polities. Dit is sterk gekleur deur Afrikaans as taal van die blanke minderheidsregering voor 1994 en swart weerstand daarteen.

Dat swart mense nou en tevore nie in Afrikaanse onderrig belangstel nie, is verstaanbaar. Meer verrassend is die gebrek aan belangstelling in onderrig in hul eie moedertale. Moedertaalonderrig vir swart kinders was 'n grondslag en doelstelling van die hoogs gekritiseerde "Bantoe-onderwys". Sodra swart owerhede egter die gesag daaroor gekry het, is dit met Engels vervang.

Swart skoliere, studente en hul ouers het Engels klaarblyklik as die taal van vooruitgang beskou. Die NP-regering se klem op onderskeibare swart tale is as 'n beleid van "verdeel en heers" verwerp. 'n "Swart" identiteit met Engels as taal was verkieslik.

Die skikking van 1994 was in 'n sekere sin die oorwinning van 'n enkele, Engelssprekende identiteit bo verskeidenheid. Om elf amptelike tale doeltreffend in werking te stel, was uit die staanspoor onwerkbaar en net 'n ander manier om Engels prakties gesproke die enigste landstaal te maak.

Aangesien Afrikaans die enigste inheemse taal is wat deur die sprekers daarvan doelgerig ontwikkel is, was dit ook die enigste om hoër funksies ten gunste van Engels te verloor. Tog het beleidsdokumente met eentonige reëlmaat die ontwikkeling van Afrikatale vir akademiese doeleindes in vooruitsig gestel - sonder resultaat.

Te midde van die agteruitgang van Afrikaans, is daar partye en persone wat aan die illusie van grondwetlike taalwaarborge vashou. Die skikking van 1994 het die mag aan 'n swart, Engelssprekende elite oorgedra, met retoriese toegewings wat Afrikaners moes oortuig dat oorgawe 'n veilige keuse sou wees.

In die praktyk is dit die regering wat beleid maak en staatsbesteding bepaal en daarom besluit wat in onderwys gebeur. Daardie regering veg 'n vergange oorlog teen Afrikaans; en daarom boer Afrikaanse skoolonderrig vinnig agteruit, terwyl dit op tersiêre vlak op sterwe na dood is - in elk geval sover dit van die staat afhang.

In 1994 het 'n bykans fiktiewe swart Engelssprekende identiteit Suid-Afrika oorwin. Die Grondwet van 1996 verwoord en verskans dit. Nzimande se uitsprake bevestig dit. Om by die Menseregtekommissie te kla, is soos om Koning Leeu by Jagluiperd vir wreedheid aan te kla.

Daarom staan die VF Plus se boodskap: 'n Minderheid wat nie sowel swart as Engelssprekend wil word nie, sal vroeër of later vir selfbeskikking moet kies - of hul identiteit tot die privaatste van private ruimtes beperk.

 

DrWynandBoshoffAfrikaans

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!