Afgeweerde plaasaanval bewys belangrikheid van gemeenskapsbeveilingstrukture

2020-01-21
Jan van Niekerk

Die VF Plus loof die paraatheid van boere en die gemeenskap van Vredefort wat hulself toegespits het op die voorkoming van misdaad en sodoende die afgelope Sondag (19 Januarie) saam met die polisie suksesvol ‘n plaasaanval afgeweer het.

Dié beplande aanval op Pieter en Erna Rademan van die plaas Goedgedacht, is deur lede van die polisie en die Vredefort Koepel-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) voorkom.

Te midde van die geweld en politieke onsekerheid waarin boere regoor Suid-Afrika gedompel is, moet boere betrokke raak en aansluit by gemeenskapsbeveiligingstrukture in hul omgewing en saamwerk met die polisie.

Alhoewel daar volgens statistiek ‘n afname in plaasmoorde was in 2019, neem plaasaanvalle en veediefstal steeds toe. Die regering moet nou daadwerklike stappe neem om plaasaanvalle tot prioriteitsmisdaad te verklaar.

Daar is gebiede in die Vrystaat waar daar steeds ‘n tekort aan samewerking met die polisie is. Daarom is daar ‘n tekort aan noodsaaklike hulpbronne om landelike beveiliging te verseker.

Die VF Plus veg nog altyd vir ‘n noodsaaklike spesiale landelike-beveiligingseenheid om op die been gebring te word wat hom toespits op die voorkoming van plaasaanvalle en veediefstal wat in samewerking met boere en ander veiligheidsforums werk om hierdie misdaad te bekamp.


Kontaknommer: 083 743 2042/ 082 308 9567

 

VrystaatJanVanNiekerkPlaasaanval

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!