Adv. Lennit Max VF Plus se burgemeesterskandidaat vir Kaapstad-metro

2021-09-22
Dr Corné Mulder

Die VF Plus se burgemeesterskandidaat vir die Kaapstad-metro vir die komende plaaslike verkiesing is adv. Lennit Max. Die onderburgemeesterskandidaat is raadslid Erika Botha-Rossouw. Hulle sal saam as ʼn sterk span die VF Plus se vaandel dra in die Kaapstad-metro gedurende die 2021-plaaslike regeringsverkiesing en ook daarna.

Adv. Max is ʼn bekende openbare figuur wat reeds diep spore getrap het wat openbare dienslewering in die Stad Kaapstad en die provinsie van die Wes-Kaap aanbetref.

Hy is ’n ervare politikus en beklee onder meer die grade B.Prok-, LLB- en LLM. Hy het ook vanaf 1999 tot 2003 gedien as provinsiale polisiekommissaris in dié provinsie. Verder het hy reeds ook gedien as die Provinsiale Minister van Gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap asook as lid van die Parlement.

Mev. Botha-Rossouw is ʼn deurwinterde politikus en vorige onderleier van die VF Plus in die Wes-Kaap. Sy is sedert 2009 aktief by die party betrokke en verteenwoordig die VF Plus tans as raadslid in die Kaapstad-metroraad.

Sy is ook 'n kundige op die gebied van maatskaplike diensbaarheid en die welsyn van mens én dier in nood lê haar na aan die hart.

Die ander persone onder die voorste tien kandidate op die VF Plus se kandidatelys is:

Mnr. Grant Marais
Mnr. Paul Jacobson
Mnr. Pieter Jansen van Vuuren
Me. Sandra Adams
Mnr. Jeff van Wyk
Mnr. Stephan Louw
Mnr. Piet Siegelaar
Mnr. Errol Solomons

Die VF Plus is vol vertroue dat sy kandidate ’n goeie mengsel van kennis en ervaring bied en dat hulle geskik en gereed is om die stad en sy mense te dien.

Dit is vir die VF Plus belangrik dat persone wat op grondvlak kennis dra van die probleme op plaaslike regeringsvlak, leierskapsposisies inneem om seker te maak dienslewering vind plaas en dat mense wat vir dienste betaal, waarde vir hul geld kry.

Een van die grootste krisisse wat die land tans ervaar, is swak en gebrekkige dienslewering en die kultuur van bedrog, korrupsie en onbevoegdheid wat veral onder die ANC vaardig geraak het.

Die ANC moet ten alle koste uit regering in die Wes-Kaap gehou word, en om dit te vermag moet die minderhede van dié stad en provinsie mekaar se hande vat.

Die VF Plus, in sy strewe na verskillende vorme en vlakke van selfbeskikking in Suid-Afrika, sal daarom ook voortgaan om sterk leiding te neem in die strewe na onafhanklikheid van die Kaap. ʼn Strewe waardeur die mense van die Wes-Kaap beoog om die juk van ANC-onbevoegdheid af te werp om seggenskap oor hul eie sake te verkry waarmee die VF Plus saamstem en volkome ondersteun.

Die VF Plus in die Wes-Kaap is gereed vir en sien uit na die plaaslike regeringsverkiesing van 1 November 2021.



 

 

DrCornéMulderStadKaapstadVerkiesing2021BurgemeesterskandidaatLennitMax

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!