Administrateur amptelik aangestel om Mafube-munisipaliteit reg te ruk

2017-05-02
Jan Oost

Die Mafube-plaaslike munisipaliteit, wat Frankfort, Villiers, Cornelia en Tweeling insluit, is amptelik deur die Vrystaatse provinsiale regering onder administrasie geplaas, aldus Jan Oost, VF Plus-raadslid in die munisipaliteit.

Oost het bevestig dat mnr. EM Notsi amptelik as administrateur ingevolge artikel 139 van die Grondwet aangestel is.

Mafube is as gevolg van jarelange swak bestuur in ʼn benarde finansiële posisie met ʼn salarisrekening wat bykans 60% van die munisipaliteit se begroting in beslag neem.

Volgens Oost kon die munisipaliteit nie betyds salarisse vir April betaal nie en is daar steeds amptenare wat nog nie hul salarisse ontvang nie.

“Dit het ʼn ernstige impak op dienslewering en die alledaagse funksionering van die munisipaliteit. Dit skep ook ʼn maatskaplike kwessie omdat werknemers van die munisipaliteit nie sonder vergoeding vir hul gesinne kan sorg nie,” het Oost gesê.

Provinsiale ingryping in die munisipaliteit se finansies was dringend nodig, maar sal nie die probleem oornag oplos nie. Dit is die administrateur se taak om toe te sien dat die munisipaliteit nou aan gevestigde standaarde vir die lewering van diens aan die gemeenskap van Mafube voldoen.

 

Kontakbesonderhede: 079 517 8059 / 082 674 6670

 


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!