Adjunk-staatsaanklaer se afsterwe in taxi-botsing plaas opnuut fokus op roekelose minibustaxi’s

2019-09-11
Adv Anton Alberts

Die VF Plus is geskok oor die afsterwe van ‘n adjunk-staatsaanklaer Tswaledi Sekwati (53) wat Maandag voor die Suid-Gautengse hooggeregshof deur ‘n minibustaxi raakgery is. Dit plaas ook opnuut die fokus op die roekelose gedrag van minibustaxi-bestuurders.

Dit is nou al tien jaar sedert Bernadine Kruger op haar bromponie deur ‘n minibustaxi doodgery is. Die bestuurder is aanvanklik aangekla vir strafbare manslag, maar na vertoë deur die VF Plus aan die staatsaanklaer, is die klag na moord verander en is die bestuurder daarna skuldig bevind.

Ten spyte van dié swaar straf, ry taxibestuurders in die algemeen steeds roekeloos en is gereeld in ongelukke betrokke wat onnodiglik menselewens kos. Die VF Plus sal derhalwe die kwessie ophaal in die Gautengse provinsiale wetgewer se vervoerkomitee om ondersoek te laat instel na volhoubare oplossings.

Sekwati, ʼn swaksiende, was ‘n spesiale raadgewer van die gewese minister van justisie, Michael Masutha. Sy afsterwe is nie net ‘n verlies van nog ‘n lewe nie, maar ‘n verlies vir die land wat kundige mense nodig het.

Suid-Afrika het deurgaans beginselvaste regslui nodig wat ‘n bydrae lewer tot die suksesvolle uitvoering van die regstelsel in Suid-Afrika.

Die party wil ook sy medelye uitspreek teenoor die naasbestaandes van die oorledene.


Kontaknommer: 082 391 3117


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!