Adj.-DG van gesondheid se aankondiging oor NGV is voortydig

2021-08-30
Philip van Staden

Die adjunk-direkteur-generaal van die departement van gesondheid, dr. Nicolas Crisp, se aankondiging vanmiddag dat die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) teen die einde van die jaar in werking tree, is voortydig.

Daar is 'n parlementêre proses, wat insluit openbare deelname in die Nasionale Vergadering asook in die Nasionale Raad van Provinsies (NRP), wat eers afgehandel moet word aangesien die NGV artikel 76-wetgewing behels wat die nege provinsies raak wat eers afgehandel moet word.

Daar moet ook in ag geneem word dat die portefeuljekomitee vir gesondheid nou eers besig is om mondelinge insette aan te hoor van belanghebbendes en belangegroepe en dat die proses dus nog baie ver van afgehandel is.

Verder moet in ag geneem word dat verskeie klinieke regdeur die land op munisipale distriksvlak asook hospitale op provinsiale vlak glad nie gereed is om die NGV te implementeer nie en dat die voortydige instel van stelsels kan lei tot ʼn groot administratiewe rompslomp aangesien verskeie van hierdie inrigtings se administrasie op pasiënterekords alleen reeds een groot gemors is en daar nog gewerk word aan fisieke hardekopie-stelsels. Data-invoerders is nie geredelik beskikbaar om data in te voer om reeds oor vier maande oor te skakel nie.

Die land se gesondheidstelsel is tans in 'n onomkeerbare gemors. Dit kan gesien word met oorsigbesoeke wat tans plaasvind. Om egter die hele stelsel in die openbare- en privaatsektor te nasionaliseer om iets te laat herleef wat nie meer bestaan nie, is nie die antwoord op Suid-Afrika se gesondheidsprobleme nie.

Die hoop wat op die NGV-towerstaf geplaas word, gaan geen verskil aan die land se gesondheidsdienste maak nie en sal sake tewens net vererger.

Die afgelope naweek is reeds in die media berig dat een uit elke vier lede van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (SAMV), wat sowat 12 000 dokters in die openbare- en privaatsektor verteenwoordig, beplan om te emigreer weens die voorgenome NGV.

Solidariteit het bevind dat 14% van gesondheidwerkers reeds met hul emigrasieplanne begin het.

Die NGV gaan ʼn teëlaarde word vir verdere korrupsie in die departement wat reeds gebuk gaan onder die beweerde wandade waarby dr. Zweli Mkhize en Digital Vibes betrek word. Ironies genoeg was dit Mkhize wat verlede jaar as minister van gesondheid die versekering gegee het dat die NGV nie deur korrupsie geteister sal word nie.

Dit is nou duidelik hoe leeg hierdie woorde was.

Dit is tans nie die geskikte tyd om die NGV in te stel nie aangesien Suid-Afrika se entstofprogram sukkel en dit duidelik is dat die 45 miljoen-teiken wat aan die begin van 2021 gestel is, nie bereik gaan word nie.

Daar is bo alles nie genoeg dokters, verpleërs, medisyne en mediese toerusting vir 'n program soos die NGV nie.

Alvorens bogenoemde nie reggestel word nie, is die NGV gedoem tot mislukking.

Vroeër vanjaar was daar ook vrae oor die Government Employees Medical Scheme (GEMS), wat in die bod is om die NGV te bestuur en moontlik te administreer, oor beweerde korrupsie van R300 miljoen by dié entiteit.

Presies wat die NGV gaan kos, is nie duidelik nie. Kundiges is van mening dit is bloot onbekostigbaar. Geld wat nou jaarliks ingepomp word in die NGV-program wat deel uitmaak van die departement se begroting kon eerder aangewend gewees het om huidige gesondheidsdienste te verbeter.

Voortydige implementering sal op net nóg 'n ANC-gemaakte ramp uitloop.



 

PhilipVanStadenGesondheidNasionaleGesondheidsVersekering#DrNicolasCrisp

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!