Aanslae teen André de Ruyter: Die gevaar daarvan om ʼn sinkende “Titanic” te probeer red

2021-11-22
Dr. Wynand Boshoff

Indien die Titanic ná sy botsing met 'n ysberg 'n nuwe stuurman gekry het, wie se skuld sou die ramp wees? Sou `n mens die nuwe stuurman kon verwyt dat hy niks van skeepvaart af weet nie?

Dit is die vrae wat by 'n mens opkom wanneer invloedryke Suid-Afrikaners die skuld vir die huidige beurtkragkrises op mnr. André de Ruyter se skouers pak. Die VF Plus, daarenteen, herhaal sy steun aan die uitvoerende hoof van Eskom.

Mnr. de Ruyter het in Januarie 2020 as uitvoerende hoof van Eskom oorgeneem. Dit was lank nadat deurslaggewende foute gemaak is. Reeds in 1998 het die departement van mineraal- en energiesake gewaarsku dat Eskom se kragvoorsiening tot 2007 voldoende sou wees en dat belegging in nuwe opwekkingsvermoë noodsaaklik was. Destyds het die regering geoordeel dat die private sektor daarvoor moes sorg.

In 2007 het twee rampe Suid-Afrika getref: Die eerste ervaring van beurtkrag, sowel as bouwerk wat aan die Medupi- en Khusile-kragstasies begin het. Dié twee kragstasies moes beurtkrag eens en vir altyd beëindig, maar weens tegniese- en ontwerpfoute, sowel as reuse oorbesteding, is dit steeds onvoltooid.

Intussen is onderhoud aan ouer kragstasies verwaarloos, sodat byna die helfte van die geïnstalleerde opwekkingsvermoë in enige gegewe stadium buite werking is.

Met die Zondo-kommissie se ondersoek na staatskaping blyk dit dat Eskom 'n gunsteling teiken vir plunderaars was. Nie net is die aantal bestuursposte ver bo funksionele vlakke vermeerder nie, maar onreëlmatige en selfs skadelike kontrakte is ook aangegaan.

Onderhoud is verder afgeskeep omdat beurtkrag vermy is deur opwekkingseenhede vir langer tye sonder onderhoud in bedryf te hou.

Toe De Ruyter in Januarie 2020 by Eskom oorgeneem het, was dit dus 'n instelling waarvan die tegniese kernfunksie reeds ernstige skade gelei het. Verder was die administratiewe- en bestuursfunksies gelaai met werknemers wat min tot die werking van die maatskappy bygedra het, maar in `n groot mate tot die koste daarvan. In enige wanpresterende onderneming is dít die mense wat regrukpogings die sterkste teenstaan - en dikwels die vermoë het om wraak te neem.

Die huidige minister van minerale hulpbronne en energie, mnr. Gwede Mantashe, lyk of hy wil help, met sogenaamde noodkragkontrakte. Sommige daarvan, veral met Karpowership, is uiters verdag omdat dit die land vir twintig jaar tot 'n "noodoplossing" verbind. Tog sal Mantashe volgens mediaberigte in die openbaar verklaar dat De Ruyter nie weet wat hy doen nie.

Nog 'n oortuiging wat die VF Plus met De Ruyter deel, is dat Suid-Afrika van steenkoolgegronde kragopwekking moet wegbeweeg, maar dat dit 'n geleidelike proses moet wees. Ook dat Eskom se verspreidingsnetwerk uitgebou moet word om verspreide opwekking en berging van hernubare energie na verbruikers te laat vloei.

Aanduidings van sabotasie en uitsprake van belangrike rolspelers soos Mantashe, laat kommer ontstaan dat De Ruyter die politieke steun wat hy nodig het om die kragkrises op te los, kan verloor.

Dit sal Suid-Afrika ten beste aan die genade van middelmatige en swak amptenare oorlaat. Anders is dit dalk misdadigers wat die septer sal swaai.

Die VF Plus wil verbruikers, huishoudelik sowel as in die nywerheid en handel, aanraai om hul eie planne met betrekking tot kraglewering te maak. Hernubare kragvoorsiening is reeds in gunstige tye aansienlik goedkoper as konvensionele bronne en bergingstegnologie volg volgens aanduidings dieselfde kostetrajek.

Eskom was vir dekades die industriële hartklop van Suid-Afrika. Binne die volgende dekade of twee kan gedesentraliseerde kragvoorsiening aangepak word omdat dit die enigste betroubare bron mag wees.

Wat André de Ruyter betref, hy het die stuur oorgeneem toe die Eskom-Titanic reeds begin sink het. Indien hy dit nie kan red nie, sal dit tot sy ewige krediet staan dat hy regtig probeer het.

 

 

DrWynandBoshoffEskomGwedeMantasheAndreDeRuyter

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!