Manifes 2021

Die meeste munisipaliteite van Suid-Afrika is in totale chaos gedompel. Dienslewering is ontoereikend, infrastruktuur verval en ʼn groot aantal munisipaliteite is in werklikheid bankrot.

Die VF Plus neem aan die verkiesing deel onder die tema, “Staan op. Staan saam. Staan sterk en stop die verval”. Elke kieser moet besef dat die toekoms in sy/haar hande is en dat ‘n sterk boodskap gestuur moet word dat die verval nie langer geduld sal word nie.

Hierdie manifes bevat ʼn agtergrond ten opsigte van munisipale kwessies en probleme, die oorsake van hierdie probleme en bied ʼn tienpunt-plan aan om hierdie probleme aan te spreek.

 

Die grootste mislukking van die ANC-regering is die stand van munisipaliteite

Dienslewering faal en meeste munisipaliteite is feitlik bankrot en onvolhoubaar. Dorpe is saamgevoeg om groot munisipaliteite of metrorade te vorm, maar al wat verbeter het, is die vergoeding van raadslede en top amptenare.

 

Verandering is nodig

Of Suid-Afrikaners verandering wil hê is ‘n retoriese vraag aangesien 31% van Suid-Afrikaners geen vertroue in hul plaaslike regerings het nie en slegs 12% volkome vertroue het.

Daar vind sedert 2013 ‘n gemiddeld van 2.26 diensleweringsbetogings per dag plaas. Van 1 Augustus 2020 tot 31 Januarie 2021 het daar egter 909 betogings plaasgevind. Dit is ‘n gemiddeld van 29 betogings per dag. Alhoewel politieke faksiegevegte ook ‘n motivering vir hierdie betogings is, is dit ‘n aanduiding van die toename van verval en die algehele tekort aan basiese dienslewerings.

Om egter slegs die regerende party van ‘n munisipaliteit te verander, gaan nie die sistematiese probleme oplos nie. Dit is die huidige beleidsrigtings en die model van plaaslike regering wat moet verander.

 

Nie slegs verandering nie, maar verbetering

Suid-Afrikaners verdien ‘n nuwe bedeling tot voordeel van alle gemeenskappe.

Die ANC soek ‘n sondebok vir alles wat verkeerd is in Suid-Afrika, vir al sy mislukking en vir die totale verval van dorpe en stede. Hy gebruik wittes as die sondebok en probeer sy kiesers behou deur wittes en apartheid die skuld vir die krisisse te gee. Rassepolarisasie word vir korttermyn politieke gewin gebruik.

Die oorsake van die verval lê by beleid wat ‘n gunstige omgewing vir wanbestuur, korrupsie en bedrog geskep het.

 

Daar is hoop – die verval kan gestop word

Die mense van Suid-Afrika kan verenig rondom ‘n nuwe visie vir die toekoms. ‘n Visie waar jyself weer beheer neem oor jou en jou nageslag se toekoms gegrond op die waardes van integriteit, eerlikheid, hardwerkendheid, wedersydse respek en naasteliefde. Waardes wat nog altyd in die verlede die vaste fondasie gevorm het vir die skep van ‘n toekoms van vrede, veiligheid en voorspoed.

Die VF Plus se 2021-manifes vervat daadwerlike oplossings wat hoop bied om ‘n beter toekoms te bou en die verval te stop. Dit is gesentreer rondom die aanstelling van munisipale amptenare op meriete, effektiewe finansiële bestuur en volhoubare plaaslike ekonomiese ontwikkeling.

 

Lees die volledige 2021-manifes:

 


Laai dokumente af


VF PLUS MANIFES 2021 MUNISIPALE VERKIESING.pdf FF PLUS MANIFESTO 2021 MUNICIPAL ELECTION.pdf

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!