VF Plus verwelkom ontplooiing van strukturele ingenieurs by Driehoek, nog geen antwoord van Makhura

2019-02-09
Die Redaksie

Die VF Plus neem kennis daarvan dat die Gautengse onderwysdepartement die afgelope Dinsdag strukturele ingenieurs ontplooi het by die Hoërskool Driehoek om seker te maak die geboue is veilig voordat leerlinge na die skool terugkeer en dit word deur die party verwelkom.

Die Gautengse onderwysdepartement, die premier en die LUR’e vir onderwys en infrastruktuur-ontwikkeling, het die skole, onderwysers, leerlinge en ouers in die provinsie versaak deur oor ‘n lang tydperk nie genoeg fondse beskikbaar te stel om skole in stand te hou nie.

"Waaroor die VF Plus uiters bekommerd is, is dat die Gautengse premier, David Makhura, en sy LUR’e vir infrastruktuur-ontwikkeling en onderwys nog nie op die VF Plus se dringende skrywe van die afgelope Dinsdag oor veiligheid by sekere skole gereageer het nie," sê Philip van Staden, VF Plus-LPW in Gauteng.

"Die VF Plus sal uit die aard van die saak druk op die provinsiale regering verskerp totdat daar uitvoering gegee word aan die party se eise dat strukturele ingenieurs ontplooi word by alle skole regdeur die provinsie.

"Die VF Plus wil dit opnuut beklemtoon dat hierdie druk nie toegepas word om skole in die provinsie in die verleentheid te stel nie, maar die hoofdoel is om seker te maak alle skole in die provinsie is veilig.

Die party beoog nie om self enige skool se strukture te ondersoek nie, maar om druk op die provinsiale regering te plaas om strukturele ingenieurs dadelik te ontplooi om verdere lewensverliese te probeer voorkom.

"Die VF Plus ontvang deurlopend eposse van ouers in die provinsie wat kla oor die veiligheidsituasie by verskeie skole in Gauteng en selfs in Sasolburg. Die party is besig om alle klagte en foto’s daaroor te versamel.

"Die afgelope Maandag het die VF Plus vergaderings gehad met die hoof en beheerraadvoorsitter van die Hoërskool Driehoek om hulp aan te bied en het die afgelope week ook die beheerraadvoorsitters van die Hoërskool Overvaal en die Laerskool Rissiville gespreek.

"Dié skole het reeds proaktiewe aksies geloods ten einde infrastruktuur te ondersoek en te versterk. Met die VF Plus se vergadering by Overvaal en Rissiville was daar reeds gekwaflifiseerde kundiges op die terrein wat die strukture van die skole nagegaan het en dit is verblydend dat die skole vroegtydig opgetree het - selfs voordat die VF Plus se verklaring oor die aangeleentheid die afgelope Dinsdag uitgereik is.

"Dit is kommerwekkend dat van die bestaande 3 905 skole in die provinsie, daar tydens die provinsiale begrotingsrede van 2018/19, wat op 6 Maart 2018 gelewer is deur die LUR van finansies, Barbara Creecy, nie enige bedrag toegeken is vir die verbetering van skole se infrastruktuur nie," sê Van Staden.

Die departement van onderwys het wel ‘n toekenning van R45 miljard ontvang, maar die geld word as volg aangewend:

- R3.2 miljard vir direkte oorplasings vir bedryfskoste na openbare skole en vroeë kinderontwikkelingsterreine.

- R2.7 miljard vir skole met kinders met gestremdhede.

- R1.2 miljard om 1.4 miljoen leerlinge daagliks van ‘n bord kos te voorsien.

- R1 miljard om leerlinge, wat meer as 5km vanaf hul naaste skool woon, te

vervoer na en van skole.

- R238 miljoen vir die implementering van e-opvoeding.

- R2 miljard vir handboeke, skryfbehoeftes, skoolmeubels en ander materiale.

- R196 miljoen vir onderwysontwikkeling.

- R159 miljoen vir die verbetering van matrieks se leervermoë.

 

Bogenoemde syfers kom neer op slegs R11 miljoen per jaar per skool. "

Hieruit moet skole alles finansier en dan nog sosiale geleenthede en funksies hou om hul fondse aan te vul.

"‘n Verdere probleem is dat die departement van infrastruktuur-ontwikkeling ‘n relatiewe klein deel van die 2018/19-begroting ontvang het - slegs R3 miljard. Dié departement was vyfde op Creecy se lys wat toekennings aanbetref. Met hierdie bedrag is dit ontmoontlik vir die departement om noodsaaklikhede soos skole en brûe in stand te hou.

"Dit is nog steeds onduidelik presies waarvoor dié bedrag aangewend moes word. Daarom het die VF Plus verlede jaar die provinsie se begroting vir 2018/19 verwerp wat nie net teen minderheidsgroepe diskrimineer nie, maar ook nie voorsiening daarvoor maak om voldoende dienslewering te bied nie.

"Die VF Plus sal aanhou om terug te slaan met daadwerklike optrede om te verseker dat inwoners van Gauteng behoorlike dienste op alle terreine, skole ingesluit, ontvang," sê Van Staden.


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!