Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

Staatsdienspensioenfonds-pensioenarisse se ‘Transnet-oomblik’ het aangebreek en moet sterk teengestaan word: Openbare Beleggingskorporasie tree roekeloos op met die idee om Eskom te red deur skuld in aandele om te sit

"Die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) se voorstel aan die regering om skuldbriewe van Eskom om te sit in aandele, is uiters roekeloos en kan tot ‘n storm van litigasie aanleiding gee. Die OBK het namens die staatsdiens se pensioenfonds (GEPF) in dié skuldbriewe belê," sê adv. Anton Alberts, VF Plus-nasionale voorsitter.

"Die roekelose wyse waarop die Transnet-pensioenfondse in die verlede bestuur is, het nou ook in groot maat vir die GEPF-pensioenarisse aangebreek en moet met alle mag teengestaan te word.

"Dit is duidelik dat die OBK as beleggingsbestuurder nie in belang van die pensioenarisse van die GEPF optree nie, maar in belang van die ANC-regering wat self al vir jare roekeloos omgaan met belastingbetalers se geld in die vorm van algemene wanbestuur en korrupsie, maar in besonder ten aansien van Eskom self.

"Die voorsitter van die OBK, Reuel Khoza, het in ‘n onderhoud met eNCA op 28 Mei 2020 gemeld dat die OBK vir Eskom kan help om ten minste van R200 miljard van sy skuld ontslae te raak deur alle Eskom-skuldbriewe waarin die OBK en die GEPF belê het, in aandele om te sit.

 

"Die omskepping van die Eskom-skuldbriewe in aandele sal wees soos om Zimbabwe Dollars aan die pensioenarisse in ruil vir hul waardevolle bates te gee. Eskom-aandele het geen wesenlike markwaarde nie."

 

"Trouens, dit wat die OBK beplan om te doen, is presies wat die trustees van die Transnet-pensioenfondse gedoen het waar hulle saam met Transnet eensydig waardevolle skuldbriewe van Transnet gekanselleer het en wat een van die direkte oorsake is vir die Transnet-pensioenarisse se verstommende verarming.

"Die VF Plus gaan derhalwe ‘n skrywe aan die OBK en die raad van trustees van die GEPF rig en waarsku dat hulle met vuur speel. Indien hulle voortgaan met die plan loop hulle dieselfde pad as die Transnet-pensioenfondse en sal hulle hulself in ernstige litigasie van die GEPF-pensioenarisse vasloop.

"Die Transnet-pensioenhofsaak het reeds ‘n regspresedent geskep wat gebruik kan word om die plan in die hof te stuit. Boonop kan die trustees van die GEPF en die direkteure van die OBK persoonlik aanspreeklikheid opdoen vir hulle roekelose optrede.

"Dit blyk verder dat die OBK geheime samesprekings gehad het met Cosatu wat aanvanklik die voorstel aan die regering gemaak het. Khoza meld in die onderhoud dat Cosatu nie formeel so ‘n voorstel aan die OBK voorgelê het nie.

"Dit val dus vreemd op dat die OBK skielik uit eie beweging Cosatu se voorstel aan die regering voorgelê het. Dit kan net wees dat daar in die geheim informele gesprekke gevoer is sodat dit nie lyk asof die OBK voor Cosatu swig nie en die besluit as outonoom en redelik voorgehou kan word.

"Die VF Plus glo egter die waarheid sal uitkom en dat die GEPF-pensioenarisse nie bedrieg sal word soos wat met die Transnet-pensioenarisse gebeur het nie," sê Alberts.

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.