fbpx
Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

Sol Plaatje-raad: ANC minag Kimberley en sy mense

"Die ANC minag Kimberley en sy mense. Dit is die enigste moontlike gevolgtrekking nadat die derde raadsvergadering van die Sol Plaatje-munisipaliteit op kort kennisgewing deur die speaker afgestel of gekanselleer is," sê dr Wynand Boshoff, VF Plus-leier in die Noord-Kaap en raadslid in Sol Plaatje-plaaslike munisipaliteit.

Die eerste was die gewone raadsvergadering van 6 Februarie, terwyl die informele vergadering van 26 Februarie sowel as die spesiale vergadering van 27 Februarie ook in die slag gebly het.

Op die agenda vir 27 Februarie is die aangepaste begroting, wat nie later nie as 28 Februarie goedgekeur moet word. Die aangepaste begroting vir 2018/19 is van kritieke belang, aangesien die munisipaliteit se inkomste sowat R76 miljoen minder is as wat begroot is.

Dit is die gevolg van die elektrisiteitsheffing van R260 per huishouding wat in Julie 2018 ter syde gestel is, nadat verbruikstariewe reeds verlaag is om vir dié heffing voorsiening te maak.

"In 'n brief van die Nasionale Tesourie word Sol Plaatje daarop gewys dat die munisipaliteit tans onvolhoubaar is, omdat dit dienste teen 'n verlies lewer. Dit is buiten vir die elektrisiteitsheffing wat nie ingesamel word nie en ander faktore soos meer as 52% van aangekoopte water wat verlore raak.

"Om skande by skade te voeg, is die bevinding vir die vorige finansiële jaar dat Sol Plaatje van 'n ongekwalifiseerde oudit met bevindings, verswak het tot 'n gekwalifiseerde oudit met bevindings. Dit beteken dat die rampspoedige 2018/19-finansiële jaar reeds op 'n swak basis moes bou.

"Alles wat hierbo uitgewys is en veel meer, sou op die vergadering van 27 Februarie bespreek word. Terwyl Sol Plaatje leierskap dringend nodig het, laat weet die speaker ongeveer 'n uur voor die vergadering dat sy 'n duisend kilometer ver in Port Nolloth is en derhalwe die vergadering kanselleer.

"Intussen kan die DA nie juis 'n vinger wys nie. Dié party het 'n sentrale rol gespeel om Sol Plaatje se munisipale raad die tweede helfte van 2018 disfunksioneel te laat.

"Kiesers wat moeg is vir groot partye wat hulle politieke speletjies bo dienslewering stel, kan op 8 Mei verandering bring as hulle vir die VF Plus stem.

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.