Ook in Noordwes is provinsiale rede net mooi woorde en beloftes sonder substansie

2019-06-29
Die Redaksie

Die provinsial rede van Job Mokgoro, premier van Noordwes, was ‘n sameflansing van mooi woorde en beloftes sonder om daadwerklik die kernoorsake van probleme in die provinsie en oplossings daarvoor te bespreek.

Die premier het bevestig dat die ANC sedert 1994 daarin gefaal het om basiese dienste te lewer en sodoende misluk het aangesien inwoners van Noorwes steeds hunker na basiese dienste al is die ANC al ‘n kwarteeu aan bewind. Hy het ook bevestig die Valke ondersoek sake rakende staatsamptenare in die provinsie wat R2,5 miljard beloop.

"Hoewel die premier die skaarsheid van water binne die provinsie beklemtoon het, het hy geswyg oor die besoedeling van varswaterbronne en die rol wat disfunksionele rioolwerke, asook die swak toestand van die munisipaliteite se riool-infrastruktuur, in die krisis speel," se De Wet Nel, VF Plus-LPW in Noordwes.

Skokkende statistiek oor korrupsie en bedrog binne die provinsie en munisipaleite is bekend gemaak, maar weinig werkbare oplossings word gebied.

Nel sê die VF Plus sal dophou of beloftes rondom die vervolging van korrupte amptenare realiseer.

Werkloosheid in die provinsie staan tans op 27%, wat diegene uitsluit wat opgegee het om werk te soek.

"Terwyl die ANC se beleid van Regstellende Aksie (RA) en kwotas, in stede van meriete as maatstaf gebruik word, sal die negatiewe tendens van ‘n swak ekonomie en werkloosheid binne die provinsie nie verander nie.

"Die ANC poog ten alle koste om besigheisprojekte binne die provinsie onder sy mag te hou. In stede daarvan om die vrye mark geleentheid te gee om die voortou te neem en inisiatiewe te lei, sal werklike ekonomiese groei en werksskepping nie plaasvind nie. Die geskiedenis van projekte waar die regering betrokke was, is ‘n duidelike bewys dat vaardighede by die privaatsektor berus," sê Nel.

Mokgora het ook sterk klem gele op taxigeweld, bendegeweld en veediefstal, maar nie ‘n woord is genoem oor sake soos plaasmoorde of -aanvalle nie.

"Dit is onaanvaarbaar dat die ANC daaroor swyg terwyl boere en werkers in vrees lef in die provinsie. 

"Die VF Plus sal Dinsdag tydens die debat oor die rede indringende vrae oor die kwelpunte vra , maar sal ook oplossings rakende die die magdom probleme in die provinsie aan die huis en die premier voorlê," sê Nel.


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!