fbpx
Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

Nkandla: Die onreg is netjies voorbedag

Daar waar die ANC betrokke is, sal die waarheid oor Nkandla nooit blootgelê word nie, skryf Corné Mulder.

“ Uit ’n veelvoud van verslae skreeu die feite dit helder en ondubbelsinnig uit. ”

Waarom die groot bohaai oor Nkandla?

Dit is tog logies dat die president van Suid-Afrika beveilig moet word. Dit word oral in die wêreld gedoen. Hoe kan die publiek, media en opposisiepartye so kortsigtig wees en dit nie verstaan nie?

Dít is die argumente van lojale ANC-kaders wat pres. Jacob Zuma die afgelope paar weke tot elke prys probeer beskerm het.

Helaas gaan dit oor veel meer as die beskerming van ’n sittende staatshoof. Dit gaan oor basiese grondwetlike beginsels, oor die magte en bevoegdhede van grondwetlike instellings. Dit gaan oor die wese van ’n staatsbestel wat veronderstel is om deursigtig en verantwoordbaar te wees. Dit gaan oor wat reg en verkeerd is, oor korrupsie en bedrog.

Dit gaan oor R246 miljoen se duur betaalde belastingbetalersgeld. Dit is baie geld, veral in ’n land van enorme armoede en werkloosheid.

Hoeveel is R246 miljoen nou regtig? Elke belastingbetaler in Suid-Afrika weet hoeveel R674 000 is. Gaan bereken hoe lank jy moet werk om dit te verdien. Hoe lank gaan dit jou neem om maand ná maand so ’n verband af te betaal?

Wel, as jy die bedrag van R674 000 in kontant kan vind en dit vandag alles gaan uitgee – en jy bestee dieselfde bedrag elke dag vir ’n volle jaar – dan het jy R246 miljoen bestee. Dit is die bedrag wat ter sprake is met betrekking tot Zuma se private woonkompleks.

Hierdie bedrag is nie bestee om ’n amptelike presidensiële staatswoning te verbeter nie, soos die voormalige Groote Schuur of die Withuis in die VSA, wat deur opeenvolgende presidente gebruik gaan word. Nee, hierdie bedrag is bestee om sogenaamde veiligheidsmaat­reëls by die president se private woning aan te bring.

Wanneer Zuma se termyn in 2019 tot ’n einde kom, bly dit daar tot voordeel van hom en sy familie.

Op 10 Mei 2014 sê Zuma die volgende: “Hulle het ’n hele jaar bestee om oor Nkandla te praat. Daar is niks verkeerd met Nkandla nie.”

Elke optrede van Zuma in die parlement, waarvan die jongste die afgelope week in vraetyd was, weerspieël hierdie ingesteldheid as dit oor Nkandla gaan. As die koning van Suid-Afrika is hy hierop geregtig.

Ná die ad hoc-komitee se besoek verlede maand aan Nkandla is die ANC-lede skielik eenstemmig dat pryse ten opsigte van kontrakte baie opgeblaas is, dat die staat op ’n baie groot skaal besteel is en dat daar ernstige korrupsie plaasgevind het. Die skuldiges moet aan die man gebring word.

Dit is egter dieselfde ANC-lede wat by al drie ad hoc-komitees wat hieroor in die lewe geroep is, nie wou toelaat dat die openbare beskermer (OB) aangehoor word, of dat een enkele ander getuie as twee ANC-ministers geroep kon word nie.

Geen getuie wat nie streng onder die gesag van die ANC-koukus en Luthuli-huis is nie, is naby die prosesse toegelaat nie.

Getuig dit van ’n ernstige soeke na die waarheid, of getuig dit van ’n desperate poging om die absoluut onverdedigbare tot elke prys te verdoesel?

Uit ’n veelvoud van verslae skreeu die feite dit helder en ondubbelsinnig uit. Daar is geen twyfel dat die president en sy gesin onbehoorlik bevoordeel is in hierdie hele proses nie.

R206 miljoen is reeds bestee aan die huis van die president, asook aan ander geboue en fasiliteite in ’n radius van minder as een kilometer om die huis. Meer as R31 miljoen is verder geoormerk vir die derde fase van die projek.

Jy hoef nie ’n ruimtewetenskaplike te wees nie om te besef as die staat R246 miljoen bestee aan geriewe en fasiliteite in en om my huis in ’n direkte radius van een kilometer, sal ek beslis daardeur bevoordeel word.

Daar is nie een enkele gebou of fasiliteit opgerig wat nie ’n regstreekse verband het met die feit dat die eienaar van die huis tans die president is nie. Weliswaar president vir nog net drie-en-’n- half jaar. En dan? Wie het dan die voordeel daarvan?

Het Zuma geweet wat hier aangaan? Die antwoord is ’n ondubbelsinnige “ja”.

Op 4 Desember 2009 bars die bom in die media: “Zuma’s R65m Nkandla splurge”.

Om die waarheid te probeer vind, is dit in 2010 en 2011 deurlopend in die parlement met vrae aan die president opgevolg.

Die OB het in haar ondersoek 29 pertinente vrae op skrif aan die president gerig. Tot vandag toe het die president verkies om 18 van daardie vrae heeltemal te ignoreer.

Intussen het die geld bestee en geoormerk vir “Prestige Projek A” aangegroei en geëskaleer tot R246 miljoen.

Hier is ’n eenvoudige vraag aan die president: Het u in enige stadium navraag gedoen oor die koste van hierdie projek, wat opsigtelik baie omvattend en hoog was?

En indien nie, het u nooit die verpligting as staatshoof gevoel om hieroor navraag te doen nie, aangesien dit duidelik was dat beduidende bedrae van belastingbetalersgeld bestee word?

Moenie vir een oomblik geregtigheid of ’n opregte vind van die waarheid met betrekking tot Nkandla verwag daar waar die ANC oor enige meerderheid beskik nie. Dit sal nie daar gevind word nie.

Almal in Suid-Afrika wat hierdie magsvergrype met walging moes aanskou, het net twee opsies, en albei moet aangegryp word.

Eerstens: Verenig saam met opposisiepartye en die burgerlike samelewing wanneer hierdie saak na die howe gaan.

Tweedens: Gebruik jou stemreg by die stembus by elke geleentheid wat daar is sodat ons in ’n opposisiekoalisie die ANC kan verslaan.

■ Dr. Corné Mulder was die VF+ se verteenwoordiger in die parlementêre ad hoc-komitee oor Nkandla.

 

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.