"Die minister vir hoër onderwys, dr. Blade Nzimande, wil nie alleenlik openbare universiteite nie, maar ook private hoër onderwysinstellings, vir kulturele onderdrukking gebruik," sê Wynand Boshoff, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van hoër onderwys.
"Dit is die enigste redelike afleiding wat gemaak kan word na aanleiding van dr. Nzimande se onlangse antwoorde op parlementêre vrae van die VF Plus
"Die minister het eers verklaar dat daar geen plek vir 'n oorwegend Afrikaanse universiteitskampus is nie, aangesien dit op uitsluiting op grond van ras sal neerkom. Die grondwethof se bekragtiging van die Universiteit van Stellenbosch se taalbeleid het hy as bevestiging van sy standpunt aangehaal.
"In 'n volgende vraag het die VF Plus gevra of die minister ander tale as Engels ook by private hoër onderwysinstellings as 'n hindernis tot toegang beskou sal word. In antwoord het hy sy vorige stelling herhaal.
"Die betekenis hiervan is dat toeganklikheid volgens die minister beteken dat nie een van die 26 universiteite se 58 kampusse onderrig oorwegend in Afrikaans mag bied nie, maar dat die burgerlike gemeenskap dit ook nie met sy eie fondse mag onderneem nie."
"Die VF Plus is daarvan oortuig dat dr. Nzimande die hof se uitspraak verkeerd verstaan. Indien die hof bevind het dat Stellenbosch se taalbeleid in ooreenstemming met die Grondwet is, beteken dit nie noodwendig dat dit die enigste taalbeleid is wat met die Grondwet versoenbaar is nie.
"Die minister gebruik taal in hierdie geval as 'n wyse om kulturele verskeidenheid in Suid-Afrika te onderdruk. Dit is 'n beleid wat eerder tot opstand as tot harmonie kan lei," sê Boshoff.