Dit is ‘n bittersoet ironie dat die Vrystaat na nege-jaar ontslae is van Ace Magashule. Bitter vir die ANC wat nou eerstehands gaan voel hoe skandale, gerugte en leë beloftes skade kan aanrig; soet vir die Vrystaat wat, vir eers, kan sug van verligting omdat ons ontslae is van ‘n premier wat die provinsie in die afgrond bestuur het.
Aan die einde van die Ace-era is dit egter nodig om oor sy nalatenskap verslag te doen. Soos voorspel, was vanjaar se provinsiale rede, wat die VF Plus saam met ander opposisie vanjaar geboikot het, niks meer as ‘n oordadige afskeidspartytjie wat kunsmatig ‘n vals prentjie wou skep van die Magashule-nalatenskap. Dit is net billik dat ‘n meer realistiese evaluering gegee word en Ace sy eie rapport kry.
Geskiedenis: E
Die ANC en Magashule se hulde aan kommunsitiese leiers soos Fidel Castro en Ché de Gueva wys dat die hulle óf geskiedenis verkeerd verstaan, óf die realiteit van hierdie dispotiese leiers gerieflikheidshalwe ontken. Konserwatiewe bronne skat moorde onder Castro se leierskap tussen 30 000 en 40 000 terwyl sommige historici dit nader aan 97 000 beraam. Castro se generaal, de Gueva, was verantwoordelik vir die teregstelling van duisende mense, waaronder vroue, kinders, joernaliste en enigiemand wat nie met Castro se totalitêre leierskap en beleid saamgestem het nie.
Die ANC en Magashule se beheptheid met die leuen dat grond deur boere en witmense gesteel is, wys verder dat geskiedenis nie juis ‘n gunstelling-vak was nie.
Aardrykskunde: a (afwesig)
Drie van die Vrystaatse munisipaliteite, Mafube (Frankfort, Cornelia, Villiers, Tweeling), Masilonyana (Theunissen, Brandfort, Winburg, Verkeerdevlei) en Maluti-a-Phofung (Harrismith, Kestell, Witsieshoek, Phuthaditjhaba) is gedurende Magashule se munisipaliteite onder administrasie geplaas. As premier het Magashule die politieke mag gehad om druk op die munisipaliteite te plaas om hul huis in orde te kry, maar die politieke wil was nie daar nie.
Dit word bevestig deur die feit dat provinsiale ingryping by dié munisipaliteite egter in ‘n slegter toestand gelaat het.
Ekonomie en Landbou: F-
Die agbare premier het nagelaat om die benarde stand van munisipaliteite in die Vrystaat se finansies aan te spreek. Gedurende sy termyn het die Ouditeur Generaal telkens gewys op swak finansiële bestuur van munisipaliteite en regeringsdepartemente.
Daarbenewens skuld Vrystaatse munisipaliteite tans nagenoeg R9.74 miljard aan krediteure, wat meestal uit Eskom en die waterrade bestaan.
Getrou aan ANC-beleid, was werkskepping binne die regering vir Magashule belangriker as om ‘n klimaat vir investering, ekonomiese ontwikkeling en gevolglikke werkskepping te vestig. Die verval van infrastruktuur soos paaie tesame met ‘n regeringsdepartemente wat belaai was met onbevoegde regeringsamptenare was net ‘n las vir belastingbetalers. Intussen het die provinsie se geld, staatsubsidies en toekennings jaarliks verlore gegaan as gevolg van korrupsie en bedrog.
Vir nou, sal net tyd leer of die toets wat die ANC in Magashule gedruip het, weer sal plaasvind.
In Magashule se Vrystaat sal 50 swart opkomende boere jaarliks deur die staat, by magte van die provinsiale departement van landbou, bemagtig word om vooruitstrewende kommersiële landbouers te word. Dieselfde departement hoof, Peter Thabethe, is egter onlangs vir bedrog en geldwassery gearresteer. Thabethe en verskeie ander se arrestasies volg op die Vrede-Suiwel-skandaal waar R570 miljoen van belastingbetalers se geld oor ‘n tydperk van vyf jaar vermors en gesteel is. Die beweerde betrokkenheid van die premier se kantoor die projek laat vele vraagtekens oor sodanige planne vir die landbousektor. Magashule se vissery-projek in Gariep is ook ‘n mislukking
Oor die grootste bydraende ekonomiese faktor tot die provinsie se ekonomie, naamlik boere, wat te midde van plaasmoorde en –aanvalle en ‘n erge droogte aanhou produseer, het Magashule nie ‘n woord gerep nie. Die sosio-ekonomiese impak wat dit op die gemeenskap van die Vrystaat het, is onberekenbaar. Tog het die premier dit nie nodig geag om gedurende sy termyn ‘n effektiewe en volhoubare veiligheidsplan te implementeer nie.
Onderwys E
Hoewel Magashule wil aanspraak maak op onderwys as sy een sukses, laat hy egter na om daarop te wys dat slegs sowat 50% van daardie Graad R-leerders skool sal klaarmaak as gevolg van buite faktore wat nie deur die administrasie van die dag aangespreek word nie.
Die toename in beurse vanaf 129 na 8000 is dalk vir Ace noemenswaardig, maar die hartseer is dat net 6% van wit studente hierby sal baat aangesien beurse nie volgens meriete nie, maar ras, toegeken word.
Magashule se Vrystaat het die afgelope tyd meer as 1000 studente na verskeie lande gestuur vir tersiêre onderrig en opleiding. Hierdie lande sluit onder andere China, Rusland, Kuba, Portugal, Indië en Turkye in. Die kostes om hierdie studente in verskeie ander lande te akommodeer kon moontlik vyf keer soveel studente in een of meer van ons plaaslike wêreldklas universiteite laat studeer het. Boonop moes studente wat medies gedurende 2017 in China studeer het, hul studies in Rusland herhaal omdat die kurrikulum aan die Chinese instellings nie volgens internasionale akkreditasievereistes voldoende was nie. Hierdie studente word as pionne gebruik om politieke punte te wen en nie vir hul eie of die Vrystaat se ontwikkeling en vooruitgang nie.
Leierskap: F-
Die gemeenskap van die Vrystaat verdien ‘n sterk, eerbare en verantwoordelike leier. ‘n Leier wat daartoe in staat is om sy foute te kan erken en om onselfsugtig vir die weerloosste onder sy volgelinge te werk. Die geldvermorsing, korrupsie en wanbestuur onder Magashule se leierskap die afgelope nege jaar getuig nie van sterk, eerbare en verantwoordelike leierskap nie en daarom verdien hy niks meer as ‘n rapport vir ‘n stoute kind nie.
Daar kan seker verwag word dat die nuwe premier, Sisi Ntombela, beter kan vaar as wat haar voorganger gedoen het. Ntombela het egter baie om te bewys. Haar rekord as LUR vir Samewerkende Regering, Tradisionele Sake en Menslike Nedersettings was egter nie van die beste nie, aangesien die probleme met Vrystaatse munisipaliteite in verband met administrasie en skuld juis onder haar bestuur as LUR onstaan het en weinig gedoen is om dit aan te spreek.
Vir nou, sal net tyd leer of die toets wat die ANC in Magashule gedruip het, weer sal plaasvind.
Tammy Wessels is 'n VF Plus-wetgewerlid in die Vrystaat.