"Die Taxi-huis (Riverside)-informele nedersetting agter Cradlestone-inkopiesentrum in Krugersdorp is die vlieg in die salf wat konstruksiewerk aan die N14-oorbrug by die Pinehaven-kruising in die wiele ry,"sê Tjaart Steenkamp, VF Plus-raadslid in Mogale City (Krugersdorp)
VF Plus-raadslede het by verskeie geleenthede die Mogale City-stadsraad (Krugersdorp) gewaarsku om betyds dié grondbesetting te verhinder, maar die versoek het telkens op dowe ore geval.
Die munisipaliteit steun die onwettige nedersetting verder deur gratis water aan die inwoners te voorsien.
"Die munisipaliteit se verskoning dat hulle nie teen die onwettige grondbesetters kan optree nie omdat die grond aan Sanral behoort, is geen verskoning nie.
"Dit is die plig van die Mogale-munisipaliteit om te verseker dat duur ontwikkelings soos Cradlestone beskerm word. In dié geval word nie net die winkelsentrum benadeel nie, maar die rivier word besoedel en die inwoners maak hulle skuldig aan onwettige elektrisiteitskoppeling. Die meerderheid mense in Riverside is ook buitelanders.
"Die VF Plus is nie onsensitief teenoor haweloses nie. Plaaslike en provinsiale behuisingsowerhede moet egter verantwoording doen vir jare se behuisingsbegrotings wat nooit ten volle aangewend is vir die oprigting van laekostebehuising nie.
"Krugersdorp se agterstand is van die hoogste in die provinsie. Die vraag is wat al die jare met die begrotingsgeld gedoen is.
"Volgens die VF Plus behoort die kwessie van onderprestering rondom die ontwikkeling van laekostebehuising na die provinsie se spesiale ondersoekeenheid verwys te word.
"Mogale City se burgemeester, Patrick Lipudi, se poging om dié inwoners van die nedersetting na ‘n eiendom verder op in Honingklip te skuif, het ook platgeval aangesien die aangewese stuk grond op die buffersone van die Cradle of Humankind geleë is. Die Honingklip-gemeenskap het heftig beswaar hierteen gemaak.
"Krugersdorp se inwoners sal seker nog 16 jaar moet wag vir dié uiters noodsaaklike oorbrug wat as die Ruimsig-boulevard bekend sal staan – nie net om lewensverliese te voorkom nie, maar ook om verkeersvloei te vergemaklik," sê Steenkamp.