fbpx
Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

Korrupsie en bedrog ware probleem by laboratoriumdienste

Blote veranderings aan ‘n wet sal nie die probleme by Suid-Afrika se nasionale gesondheids-laboratoriumdienste oplos nie.

"Daar moet ‘n politieke wil wees om dié belangrike diens reg te ruk. Slegte elemente moet strafregtelik aangekla word en bekwaamheid moet voorop gestel word," sê Wouter Wessels, VF Plus-parlementêre woordvoerder vir gesondheid.

"Die ware probleem is korrupsie en finansiële wanbestuur"

 

Wessels het tydens die debat Dinsdag oor die Wysigingswet oor Nasionale Gesondheids-laboratoriumdienste in die parlement gesê laboratoriumdienste het tans tot só ‘n punt verswak dat ‘n surplus van R274 miljoen binne een jaar uitgewis is en geval het tot ‘n tekort van byna R1 miljard en onreëlmatige uitgawes van R1.8 miljard.

Hy sê dit is nie net vanweë agterstallige skuld van provinsies nie.

"Dit is wel ‘n groot probleem wat aandag geniet in die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheids-laboratoriumdienste. Die ware probleem is korrupsie en finansiële wanbestuur wat oor dekades toegelaat is om endemies te word. Dit het die instelling lamgelê en kan nie langer voortduur nie.

"Daar moet opgetree word en skuldiges moet tot verantwoording geroep word. Dit het nou al die gebruik geraak dat amptenare wat openbare geld in hul eie sakke druk, bloot bedank wanneer hul wandade aan die lig kom, soos ook reeds by die laboratoriumdiens gebeur het.

"Dit moet verander. Daar moet gevolge wees vir diegene wat staatsgeld steel en hulle moet sonder meer strafregtelik vervolg word.

"Die betrokke wetsontwerp gee aan die minister die magte om bekwame raadslede aan te stel wat op hul beurt bekwame en toegewyde amptenare kan aanstel. Dit is ‘n goeie vertrekpunt om die instelling op die pad na herstel te plaas.

"Nogtans gaan die wetsontwerp op sy eie nie ‘n verskil maak nie. Daar moet die wil wees om op tree teen oortreders en bekwame personeellede moet aangestel word. Opleiding en ontwikkeling moet ‘n prioriteit wees, net soos die opgradering van toerusting wat verouderd en ontoereikend is.

"Wanneer die diens se direkteur van verkryging egter meer belang stel in sy eie beursie as om  hom te kwel oor die stand van toerusting, sal dit nooit gebeur nie," het Wessels gesê.

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.