Inheems of nie, die vraag is of Afrikaans in hoër onderwys agteruitboer en waarom

2021-12-22
Dr. Wynand Boshoff

Die departement van hoër onderwys se beleidsraamwerk oor taal tree in die nuwe jaar in werking. Die feit dat Afrikaans as inheemse taal daarin ontken word, jaag mense se bloeddruk op. Volgens die VF Plus is Afrikaans ongetwyfeld 'n inheemse taal, maar erkenning daarvan is nie voldoende om die agteruitgang van die taal op hoër onderwysvlak te stuit nie.

Die betrokke beleidsraamwerk is sedert 2003 wesenlik onveranderd. In die eerste uitgawe daarvan is die aanbeveling van die vroeëre Gerwel-verslag, dat twee universiteitskampusse volledig Afrikaans bly, verwerp.

Afrikaans is steeds as taal van hoër onderwys erken, maar met die kwalifikasie dat ander inheemse tale ("indiginous African languages") eers tot ʼn vergelykbare vlak moet ontwikkel voordat openbare hulpbronne weer aan Afrikaans afgestaan kan word.

Afrikaans is dus as inheemse taal erken, maar met die byvoeging dat dit 'n voorheen bevoordeelde inheemse taal is en dat die gebruik daarvan tot uitsluiting lei. Op grond daarvan het Afrikaans grond afgestaan, nie aan ander inheemse tale nie, maar aan die onbetwyfelbaar uitheemse Engels.

Die verantwoordelike minister, dr. Blade Nzimande, het onlangs in 'n vraag-en-antwoordsessie in die parlement byna sy humeur oor die kwessie verloor. Volgens hom is Afrikaans uitheems omdat dit uit Nederlands spruit, maar dit beteken nie dat die taal benadeel of verag word nie.

Sy argument is juis dat niemand beweer Engels is inheems nie en tog floreer dit in Suid-Afrika. Verder beskou hy Afrikaans as 'n wapen in 'n "regse agenda" en trek daarteen te velde.

Die belangrike vraag is of daar ʼn behoefte aan en nut vir Afrikaans as hoër onderwystaal is. Of Afrikaans inheems is of nie; en of ander inheemse tale tot hul reg op hoër onderwysvlak kom of nie, dit bepaal nie die behoefte aan Afrikaans op daardie vlak nie.

Die vraag is of Afrikaanse studente en wetenskaplikes hul taal as bruikbaar en aantreklik beskou.

Om die argument anders te stel: Engels het sedert 1994 veld gewen ten koste van Afrikaans én ander inheemse tale.

Al verkies Sesotho- of isiZulu-sprekers om in Engels, liewer as hulle moedertale, onderrig te ontvang, mag Afrikaanse studente sekerlik steeds Afrikaans verkies. Maar die omgekeerde geld ook: as hulle Engels verkies, gaan simboliese uitsprake oor die inheemse status van Afrikaans nie help nie.

Wat in werklikheid gebeur, is dat Afrikaans beperk word totdat ander inheemse tale ingehaal het, sonder doeltreffende pogings om juis dit reg te kry.

Boonop ly Afrikaans onder dieselfde neiging as ander tale, naamlik dat studente verkies om in Engels as wêreldtaal onderrig te ontvang en wetenskap te bedryf.

In lande met ʼn kulturele verskeidenheid is dit beste praktyk dat elke taalgemeenskap seggenskap oor sy eie onderwys tot op tersiêre vlak uitoefen. Indien Afrikaanssprekendes die agteruitgang van die taal wil stuit en selfs omkeer, kan so 'n bedeling 'n belangrike bydrae lewer.

Verder moet Afrikaans steeds in die professionele beroepe, ambagte, handel en dienste gebruik word, om vir studente nuttig te wees. Dit is in die hande van Afrikaanssprekendes self en nie van die minister nie.

Hier werk ons met vorme van selfbeskikking wat 'n taalgemeenskap kan opeis.

'n Omlynde grondgebied en ander staatlike kenmerke is nie 'n voorwaarde nie. 'n Taalgemeenskap wat sy taal ernstig opneem en dit op alle lewensterreine gebruik en uitbou, is wel.

DrWynandBoshoffAfrikaansHoërOnderwys#BladeNzimande

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!