Betogings by die Noordwes Provinsiale Wetgewer deur amptenare van die Departement van Gesondheid wat eis dat premier Supra Mahumapelo binne 14 dae moet bedank weens beweerde korrupsie, eis verdere ondersoek.
Michal Groenewald, VF Plus-provinsiale leier in Noordwes sê sulke ernstige bewerings deur ‘n groot aantal georganiseerde werksmagverteenwoordigers kan nie bloot geïgnoreer word nie, veral in die lig gesien van die onlangse klopjag op die premier se kantoor en bewerings van grootskaalse korrupsie met betrekking tot mobiele kliniek-eenhede wat deur Mediosa Health, ‘n maatskappy met Gupta-bande, onlangs ontbloot is.
"Supra Mahumapelo moet dan nie slegs bedank nie, maar die bewerings moet deeglik ondersoek word en Mahumapelo moet sy dag in die hof kry sou die bewerings waar bewys word.
"Hooggeplaaste ANC-politici kom gans te maklik weg met magsvergrype en die blatante uitbuiting van die stelsels en strukture binne hul beheer.
"Die VF Plus sal met die Valke in gesprek tree sodat die ondersoeke rakende beweerde bedrog en korrupsie as prioriteit gesien word sodat as die Premier van Noordwes, Supra Mahumapelo blyk dat hy betrokke is spoedig moontlik gearresteer word, voordat hy dalk met sy R40 miljard straler land uit vlug soos die Guptas," sê Groenewald.