Begroting vir Govan Mbeki sal eerder verarm as bemagtig

2019-06-05
Die Redaksie

"Die voorgestelde geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) en mediumtermynbegroting van die Govan Mbeki-plaaslike munisipaliteit is ontoereikend en spreek nie die werklike diensleweringsprobleme en werkloosheid in die munisipaliteit aan nie," sê Arande Nel-Buitendach, VF Plus-raadslid in die Govan Mbeki-plaaslike munisipaliteit

Die munisipaliteit, wat onder meer Secunda, Bethal, Charl Cilliers, Evander en Leandra bedien, gaan gebuk onder ‘n geweldige diensleweringskrisis.

"Basiese munisipale dienste word skaars gelewer, rioollekke en slaggate word nie herstel nie en stukkende straatligte bevorder geweld in die munisipale gebied.

"Die begroting wat vandeesweek deur die munisipaliteit aanvaar is en wat veronderstel is om ‘n omvattende GOP te bevorder, is duidelik ondeurdag.

"Boonop word die munisipaliteit se uitgawes nie deur ‘n gesonde inkomstestroom gerugsteun nie en kan die VF Plus nie ‘n begroting steun wat negatief is vir belastingbetalers nie.

"Die VF Plus het gevolglik teen die goedkeuring van die 2019/20-begroting gestem.

"Die munisipaliteit se salarisrekening beloop 37% van die totale begroting. Dit is onaanvaarbaar en boonop 2% bo die nasionale aanvaarbare standaard.

"Die munisipaliteit moet nie werk voorsien nie, maar moet eerder die privaatsektor in staat stel om werk te skep deur goeie dienslewering en die bevordering van ‘n gesonde plaaslike ekonomie.

"Openbare deelname wat volgens wetgewing vereis word, is ook nie behoorlik nagekom nie.  Betalende verbruikers sal die swaarste kry onder die begroting, aangesien eiendomsbelasting en tariewe verhoog is, maar verbruikers nie die nodige dienste daarvoor ontvang nie.

"Hierdie begroting is nie daarop gemik om welvaart en vooruitgang in die munisipaliteit te skep nie, maar sal eerder verarming en agteruitgang bevorder," sê Nel-Buitendach


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!