ANC se ideologie en beleid sal moet verander om ekonomie te laat groei en werk te skep

2019-09-05
Die Redaksie

Dit is die plig en verantwoordelikheid van die ANC-regering om werk te skep in Suid-Afrika. Die feit dat daar vandag net twee ministers teenwoordig was in die parlementêre debat oor werkloosheid, wys egter duidelik hoe minagtend die ANC teenoor die probleem staan.

Dit wys dat die regering nie die erns of politieke wil het om werk te skep nie.  President Cyril Ramaphosa sê gereeld in sy toesprake daar moet werk geskep word. Maar dit is duidelik dat sy ministers nie omgee of mense werk het of nie. Hulle is afwesig wanneer die krisis in die parlement bespreek word.

Dit is algemeen bekend dat ekonomiese groei tot werkskepping lei. In 2010 was die ekonomiese groeikoers 3% en die werkloosheidskoers 23%.

Verlede jaar het die ekonomie gegroei met ʼn skamele 0,8%. Werkloosheid staan tans op 29%. Die ware werkloosheidsyfer is egter 40% terwyl dit 55%  onder die jeug van die land is.

"Werkloosheid sal net afneem indien die ekonomie groei en dit sal nie gebeur solank die ANC-regering net ingestel is op sy ideologiese beleidstandpunte nie. Selfs die minister van werkverskaffing en arbeid (Thulas Nxesi) is magteloos om iets aan die ANC se beleid te verander om werk te skep," sê Pieter Groenewald, leier van die Vryheidsfront Plus.

 

"Die ANC stel net daarin belang om sy sosialistiese, kommunistiese ideologieë af te dwing op Suid-Afrika. Die VF Plus daarenteen sê daar moet begin word om vryemark-beginsels in Suid-Afrika toe te pas om die ekonomie te red."

 

"Die regering moet wegdoen met Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB). Die VF Plus merk op dat die DA die VF Plus nou begin napraat hieroor nadat die DA dit lank in die parlement verdedig het.

 

"Dit is onbillik.  Die regering sal nooit daarin slaag om werkloosheid te verbeter onder hierdie omstandighede nie."

 

"Daar moet ook weggedoen word met Regstellende Aksie (RA). In die openbare galery sit vandag ʼn aantal leerlinge van die Bloemhof Meisieskool in Stellenbosch. Bloot omdat hul gesigte wit is, sê die ANC-regering vir hulle hulle mag sekere werk nie kry nie," sê Groenewald.

 

 

PieterGroenewaldEkonomie

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!