Dr Pieter Groenewald

Nasionale Leier

Pieter Groenewald is die nasionale leier van die VF Plus. Hy is ook tans die provinsiale leier van die party in Noordwes en die voormalige federale voorsitter van die party. Pieter was tydens sy politieke loopbaan burgemeester, lid van die provinsiale wetgewer in Noordwes, parlementslid en portefeuljekomitee voorsitter.

Hy het aan die Hoërskool Gimnasium in Potchefstroom gematrikuleer. Na skool het hy sy militêre diensplig by die Berede Sentrum voltooi en word die eerste persoon in Suid-Afrika wat vyf perde gelyktydig ry, bekend as die Romeinse Rit. Hy voltooi suksesvol sy Instrukteurskursussse, sowel as sy Offisierskursusse tot die rang van volle Luitenant.

Hy verwerf ‘n B.Iuris graad aan die Potchefstroomse Universiteit vir CHO en voltooi daarna ‘n nagraadse diploma in Kommunikasiekunde. Hy het ook ‘n meestergraad in Bestuur en Ontwikkeling en 'n doktorsgraad in Politieke Studies aan die Noordwes Universiteit verwerf. Sy Phd-proefskrif se titel is: "Die Suid-Afrikaanse nasionale kiesstelsel – ‘n kritiese ontleding en alternatiewe.”

Hy was voorheen werksaam by Naschem, ‘n filiaal van Krygkor as die seksiebestuurder vir produk- en prosesontwikkeling van medium en swaarkaliber ammunisie.

In 1988 word hy verkies as die burgemeester van Stilfontein en in 1989 word hy as parlementslid vir die Stilfontein kiesafdeling verkies.

Hy is ‘n stigterslid van die Vryheidsfront en word in 1994 weer tot die parlement verkies. Van 1994 tot 1999 dien hy as die voorsitter van die portefeuljekomitee vir verdediging. Hy word ook in 1994 as die provinsiale leier van die party in Noordwes verkies.

In 1999 word hy as lid van die provinsiale wetgewer van Noordwes verkies en in 2001 keer hy terug na die parlement.

Hy is tans die parlementêre leier van die Vryheidsfront Plus en dien as lid van die portefeuljekomitees vir verdediging en polisie. Hy was voorheen lid van veiligheid en sekuriteit, arbeid, kommunikasie, grondwet, justisie en plaaslike regering.

Hy is ‘n lid van die party se uitvoerende dagbestuur en die nasionale leier. Hy is die hoofwoordvoerder vir verdediging, polisie, korrektiewe dienste, intelligensie en openbare ondernemings.

Hy het verskeie oorsese studiereise onderneem en spreek gereeld verskeie seminare en konferensies toe.


Found this interesting? Share it!