Dr. Corné Mulder is hoofsweep van die VF Plus in die parlement en ook die provinsiale leier in die Wes-Kaap. Hy is tans die langsdienende lid van die parlement van Suid Afrika met meer as 31 jaar ononderbroke diens.
Dr. Mulder behaal sy B.Iuris graad aan die Potchefstroomse Universiteit vir CHO in 1980, met politieke wetenskap en internasionale politiek as ekstra hoofvakke. In 1982 voltooi hy 'n LL.B.-graad met onderskeidings in verskeie vakke.
Hy het daarna navorsing gedoen by die Instituut vir Gevorderde Regstudies aan die Universiteit van Londen en die Max-Planck-Instituut für ausländisches öffentliches Recht und Völkerrecht te Heidelberg, Duitsland. Hierdie navorsingsperiode was ondersteunend tot die voltooiing van 'n doktorsgraad in Staatsreg (LL.D.) wat hy op die ouderdom van 26 in 1984 behaal het.
Nadat hy in 1987 as prokureur van die Hooggeregshof toegelaat is, is hy in 1988 as parlementslid vir die Randfontein-kiesafdeling verkies.
Hy is ook voorsitter van die VF Plus se grondwetlike- en beleidskomitee.
Hy was betrokke by die skrywe van die Suid-Afrikaanse Grondwet as lid van die grondwetlike komitee van die grondwetlike vergadering.