Speaker,
Ek het al baie lande in die wêreld besoek. Eers as jy terugkeer van so ‘n besoek, waardeer jy weer hoe ‘n besondere land Suid-Afrika is; ons pragtige natuurskoon, ons unieke mense met hulle verskeidenheid tale en kulture en dan die ongelooflike ekonomiese en minerale potensiaal van Suid-Afrika.
Terselfdertyd kyk ek na die konflik in Israel en in die Oekraïne en besef hoe maklik verkeerde besluite ‘n mooi land oornag in ‘n oorlogsone kan verander.
Dit sal nooit in Suid-Afrika gebeur nie, sê sommige politieke kommentators. Ek verskil daarvan. Kortsigtige politieke leiers wat in hulle besluite op selfsugtige wyse slegs hulle eie ondersteuners bevoordeel en minderhede benadeel, kan oornag so ‘n konflik situasie veroorsaak. Neem die Ivoorkus as voorbeeld. Vanaf onafhanklikheid in 1960 was die Ivoorkus ‘n model in Afrika van vreedsame naasbestaan en ekonomiese groei. Skielik, na 40 voorspoedige jare, ontplof die Ivoorkus in 1999 met ‘n staatsgreep en daarna politieke onstabiliteit en ‘n burgeroorlog omdat die regering nie sensitief was vir al die konflik-elemente nie.
Die meerderheid Suid-Afrikaners wil vrede en voorspoed hê maar meeste van die elemente wat konflik in ander lande veroorsaak, is ook in Suid-Afrika teenwoordig. In Suid-Afrika het ons ryk en arm; lae ekonomiese groei en werkloosheid; ras, etnisiteit, taal en kultuurverskille, godsdiensverskille, emosies oor grond van alle kante, ens.
President Mandela het dit besef en het uit sy pad gegaan om na alle groepe uit te reik en die konflik elemente verstandig te hanteer.
My kritiek is dat huidige ANC-leiers al meer onverantwoordelik is met hulle uitsprake oor hierdie konflik-elemente. Mens verwag dit van radikales wat graag konflik wil hê maar nie van regeringsleiers nie.
As agbare minister Nkwinti aankondig dat 50% van alle boere se grond geneem gaan word, skep dit groot verwagtinge by ANC-ondersteuners en groot weerstand by wit en swart grondeienaars. Konflikpotensiaal. Met meer tyd kan ek nog talle voorbeelde noem.
As ek na die jong en toekomstige leiers aan alle kante in Suid-Afrika luister, hoor ek hoe hulle op onverantwoordelike wyse niks anders as wraak en konflik propageer nie. Luister na hulle toesprake. Lees die sosiale mediadebatte.
Vir die eerste keer hoor ek weer gesprekke oor die land verlaat. Nie net van wit persone nie, maar van professionele mense uit alle groepe. Ons het elke professionele persoon hier nodig want hulle skep werk en ekonomiese groei.
President, u moet aantoon in hoeverre u met van die radikale uitsprake saamstem. Is daar plek in Suid-Afrika vir almal of net vir ANC-ondersteuners? U moet hoop gee vir die toekoms, nie net met woorde nie maar ook met dade wat na almal uitreik.
Is dit ‘n krisis? Ja. As regeringsleiers nie op sulke radikale stellings reageer nie, skep dit ‘n klimaat waarin hierdie jongmense meer en meer rassisties optree en glo dat regeringsleiers dit goedkeur. As op die langer termyn hierdie standpunte dan die meerderheid mense se standpunte word, dan het ons ‘n Israel- of Oekraïne-krisissituasie. Suid-Afrika is ‘n pragtige land met pragtige mense, maar moet nie dink dit kan nie hier gebeur nie.
Kontaknommers: 083 419 5403 / 082 674 6670