Vryheidsdag word gevier deur erkenning te gee aan die Grondwet wat veronderstel is om vryheid aan almal in Suid-Afrika te bring. Die ANC-regering het egter deur onderdrukkende rassewette en kwetsende uitsprake ‘n nuwe verdrukking geskep waaronder wit mense van die land nie vry kan wees nie, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.
Dr. Groenewald sê die Grondwet het nie vryheid vir almal gebring nie, en die VF Plus sal diskriminasie teen wittes beveg so lank as daar nie volle gelykheid en erkenning aan almal in die land gegee word soos deur die Grondwet se aanhef bepaal word nie.
“Dit aanhef lui Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon, en dat diegene wat hul beywer het om die land op te bou en te ontwikkel, gerespekteer moet word.
“Dit is die teorie van die Grondwet, maar in die praktyk word daar nie erkenning gegee aan almal nie deurdat die regerende ANC by monde van president Jacob Zuma die wit mense van Suid-Afrika beskuldig dat alles wat verkeerd gaan hulle skuld is.
“Hy verkwalik die wittes vir die swak ekonomiese groei, vir werkloosheid en vir ongelykheid weens sogenaamde wit monopolie-kapitaal. Die retoriek dat wittes die land se grond gesteel het en dat dit daarom sonder vergoeding genasionaliseer moet word, is niks anders as ‘n aanslag teen wittes nie.
“Almal in Suid-Afrika moet gelyk erken en behandel word, maar tans word daar teen wittes en veral die wit jeug gediskrimineer deur regstellende aksie (RA) en swart ekonomiese bemagtiging (SEB).
“Jong mense sukkel om beurse te kry en word beperk om toelating te kry tot mediese studies ten spyte van goeie akademiese prestasies, bloot op grond van hul velkleur.
“Die Grondwet het gewis nie vryheid vir almal in Suid-Afrika gebring nie,” sê dr. Groenewald.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403