Dr. Pieter Mulder, VF Plus-leier, het vandag vrae in die parlement ingedien oor wie die koste gedra het van minister Fikile Mbalula, minister van sport, se bywoning van die boksgeveg tussen Floyd Mayweather en Manny Pacquiao in Las Vegas, VSA die afgelope naweek.
“Natuurlik is dit nie korrupsie nie as die minister op sy eie koste die VSA besoek het en die boksgeveg bygewoon het nie. Die VF Plus wil net seker maak dat die Suid-Afrikaanse belastingbetalers nie vir die minister se uitgawes ingestaan het nie,” het dr. Mulder gesê.
‘n Enkele kaartjie vir die boksgeveg het tussen R31 000 en R158 000 gekos. Dan moet die vliegkoste van Suid-Afrika na die VSA ook nog bygereken word.
“As die minister die reis en bokskaartjie as ‘n geskenk gekry het, is dit ook belangrik om te weet wie en met watter motief die skenking gedoen is,” het Mulder bygevoeg.
Ministers is aan die parlement verantwoording verskuldig vir hoe hulle staatsgeld aanwend. Ministers en parlementslede moet ook geskenke wat hulle ontvang aan die parlement verklaar.
Die parlementêre vraag probeer vasstel of die koste vir die minister se reis en bywoning van die geveg deur hom persoonlik, of deur belastinggeld of deur ‘n skenking gedra is.
Kontaknommers: 083 419 5403 / 082 777 0202