Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Wes-Rand samesmelting – ‘n ANC-gekonkel

“Die ‘beoogde’ samesmelting van die Wes-Rand munisipaliteite spreek van ‘n grootskaalse gekonkel van die begin af”, sê raadslid Amanda de Lange, Vryheidsfront Plus raadslid in Mogale City en Wes-Rand streeksleier.

Net soos vier jaar gelede toe die vorige poging van die ANC in sy spore gestuit is nadat ‘n klag by die Openbare Beskermer ingedien is deur die voormalige VF Plus provinsiale leier, is die huidige proses weereens van meet af onregmatig en die vereiste prosedure vir publieke deelname weereens nie gevolg nie.

Hoewel die ANC tydens ‘n raadsvergadering in Maart reeds aangekondig het dat die proses om al vier die stadsrade aan die Wes-Rand saam te smelt onder een metroraad, het hulle kat-en-muis gespeel tot op die nippertjie om vergaderings vir publieke deelname te reël, sê rdl De Lange. “Ons het die kennisgewings laatmiddag op 27 Mei 2015 van Mogale City ontvang. Die vergaderings was geskeduleer vir die volgende week. Mogale City se vergadering het nie plaasgevind nie aangesien die Afbakeningsraad of die burgemeester nie opgedaag het nie en daar is ook geen verskoning aangebied nie.

SMS boodskappe is Donderdagmiddag na 16h00 aan raadslede gestuur om ons in kennis te stel dat Mogale City se vergadering Vrydagoggend om 10h00 sal plaasvind. Dit is onmoontlik om inwoners betyds te laat weet en hulle geleentheid te gee om reëlings te tref om dit by te woon. Dit is dus grotendeels die nie-betalers en werkloses wat met busse aangery is wat die eksklusiewe geleentheid gehad het om deel te neem aan die proses, sê de Lange.

Die Vryheidsfront Plus het reeds ‘n klag by die Afbakeningsraad ingedien asook by die Openbare Beskermer. “Die enigiste mense wat by die proses gaan baat is die wat nie hul munisipale rekeninge betaal nie en die stadsbestuur wat ‘n geweldige verhoging in vergoedingspakette gaan kry omdat metrorade in ‘n hoër kategorie val. Die middelman wat getrou sy rekeninge aan die betrokke stadsrade betaal, gaan weereens die grootste finansiële las dra.” sê rdl De Lange.

Die massiewe reklamebord wat deur die ANC by die Paardekraalweg-Key West-kruising opgesit is teen ‘n astronomiese bedrag, is ‘n toon van arrogansie en uittarting van belastingbetalers se regte wat deur die ANC geskend word. Dit is ook opvallend dat die nuwe begroting reeds met die inagneming van die ‘suksesvolle’ samesmelting gedoen is. Die hele proses is dus vooruitgeloop wat daarop neerkom dat die publiek eenvoudig hierin geboelie word.

Die Vryheidsfront Plus sal beslis nie die saak hier laat nie, sê sy. As daar voor die beoogde samesmelting reeds soveel ongeruimdhede en ‘skelmstreke’ gebruik word, wat wag vir wetsgehoorsame belastingbetalers hierna?

 

Amanda de Lange

Vryheidsfront Plus Gauteng : Raadslid/Wesrand Streeksleier

Kontak : 071 604 9498

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.