Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Werkloosheidkoers sal nie verbeter onder huidige ANC-beleid

Die styging in die werkloosheidskoers vir die vierde kwartaal vir 2021 wat vandag bekend gemaak is, kom as geen verrassing nie.

Die styging vanaf 34,9% in die derde kwartaal van 2021 tot 35,3% in die vierde kwartaal, is ‘n aanduiding van mislukte ANC-beleid en dit sal nie onder die huidige regering verbeter nie.

Werkloosheid sal aanhou styg soos wat die ANC aanhou om geykte politieke ideologieë deur middel van wetgewing en ander struikelblokke op die werkgewers en werknemers van Suid-Afrika af te dwing.

Die onlangse wysiging van die Wet op Gelyke Indiensneming wat die minister van arbeid in staat stel om sekere sektorale teikens – soos in die mynbousektor – vas te stel, is een so ‘n voorbeeld.

Dit terwyl hierdie sektor in die vierde kwartaal sowat 4000 minder werknemers in diens gehad, wat ‘n inkrimping in werksgeleenthede van 3,5% verteenwoordig.

Voorts kniehalter die toestand van plaaslike regering plaaslike ekonomieë wat veroorsaak dat klein- en medium-ondernemings, veral op die platteland, nie meer doeltreffend kan handel dryf nie. Verskeie werksgeleenthede gaan ook so verlore.

Die gebrek aan behoorlike basiese dienslewering, soos volgehoue water- en elektrisiteitsvoorsiening, vullisverwydering en die instandhouding van infrastruktuur soos paaie, plaas reuse struikelblokke in die pad van privaatsektor-werkgewers.

Dit is die gevolg van die ANC se totale onvermoë om munisipaliteite behoorlik te bestuur. Stygende insetkostes, soos die brandstofprys en beperkende arbeidswetgewing, maak werkskepping uiters moeilik onder hierdie omstandighede.

Die durf van die privaatsektor as die grootste werkskepper in die land, ten spyte van ‘n gebrek aan staatsondersteuning, moet te midde van hierdie moeilike omstandighede geloof word.

Ten spyte van verskeie werksverliese – sowat 500 000 sedert dieselfde tydperk in 2020 – kon die landbousektor daarin slaag om 57 000 meer werksgeleenthede as ‘n jaar gelede te skep.

So ook het werksgeleenthede in die finansies en gemeenskapsdienssektore toegeneem.

Dit wys dat Suid-Afrika se mense die kundigheid en die wil het om die land uit sy huidige ekonomiese moeras te trek sonder die onbevoegdheid en invloed van die ANC-regering.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.