‘n Gebrek aan leierskap en verantwoordbaarheid by Vrystaatse munisipaliteite skep ‘n teelaarde vir wanbestuur en gebrekkige dienslewering.
Dit is die bevinding wat gemaak word in die ouditeur-generaal (OG) se verslag oor die oudituitkomste van Vrystaatse munisipaliteite vir 2020/2021.
Daar is ‘n deurlopende tekort aan permanente senior bestuurders in die munisipaliteite wat die oorsaak is van ANC-binnegevegte.
Dit dra by tot die omvangryke finansiële krisis en swak dienslewering in munisipaliteite.
Soveel as 13 van die 23 munisipaliteite se munisipale bestuurders is tans waarnemend, terwyl agt munisipaliteite se finansies deur nie-permanente hoof finansiële beamptes bestuur word.
Volgens die Vrystaatse departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) is al ses van die top-seniorposte in die Mangaung-metro tans vakant.
In baie gevalle betaal belastingbetalers dubbel salarisse vir waarnemende bestuurders terwyl die permanente bestuurders geskors is hangende dissiplinêre prosesse.
Dié dissiplinêre prosesse neem in die meeste gevalle etlike jare om afgehandel te word.
Dié “beurt”-bestuurders lei tot onstabiliteit wat ontoereikende dienslewering tot gevolg het.
Die ontplooiing van nuwe of waarnemende bestuurders kniehalter verantwoordbaarheid.
Senior amptenare wat in die vorige jaar vir R370 miljoen se vrugtelose en verkwiste uitgawes verantwoordelik was, is in die meeste gevalle nie meer in daardie poste nie en kan dus nie aanspreeklik gehou word nie.
Volgens die OG het munisipaliteite gebruik gemaak van konsultante omdat daar ‘n gebrek aan amptenare met die nodige vaardighede en kundigheid is. Die koste hiervan was R38 miljoen.
Intussen hoop munisipale skuld aan waterrade (tans R6,327 miljard) en Eskom (R17 miljard) maandeliks op.
Inwoners van Vrystaatse munisipaliteite verdien beter as die ANC.