Midde in die huidige swak ekonomiese omstandighede in die Vrystaat, is dit onaanvaarbaar dat die provinsie fondse verbeur weens die provinsiale regering se swak beplanning en finansiële bestuur.
Die toekenning van fondse aan die Vrystaat volgens die Wysigingswet op die Verdeling van Inkomste (Dora) word minder gemaak weens die ANC-regering se swak bestuur van voorwaardelike toekennings wat nou deur die provinsie verbeur word.
Van hierdie voorwaardelike toekennings is in die verlede nie vir hul gespesifiseerde doelwitte aangewend nie, maar eerder op bedryfsuitgawes en salarisse bestee. Daar was ook onderbesteding van sekere toelae weens swak beplanning. Dié toelae is nou verbeur.
Die begroting wat nou goedgekeur is, is gegrond op die fiskale raamwerk soos voor die Covid-19-pandemie. Dit beteken in werklikheid dat die verdeling van inkomste aan provinsies, munisipaliteite en departemente, drasties gaan verskil na die aansuiweringsbegroting van die minister van finansies, mnr. Tito Mboweni op 24 Junie.
Die Vrystaat gaan daarom waarskynlik nóg minder fondse ontvang, terwyl die las van uitgawes weens die hantering van die pandemie toeneem.
Die Vrystaatse regering het vir dekades die provinsie se finansies swak bestuur en geen reserwes opgebou nie. Die ANC-regering laat vrugtelose en verkwiste uitgawes, wanbestuur en korrupsie toe.
Die VF Plus het tydens ‘n virtuele sitting van die Vrystaatse Wetgewer teen die provinsiale mandaat ten opsigte van die Dora-wet gestem. Die party waarsku ook departemente om nie fondse volgens hierdie begroting te bestee nie, aangesien die werklike begroting met Covid-19 in ag genome, aansienlik gaan verskil.
Kontaknommer: 084 206 3375