Die Vrystaat se provinsiale begroting plaas die provinsie onder meer finansiële druk omdat die ANC nie van sy verwronge beleid en verkeerde prioriteite kan afsien nie.
Die Vrystaatse LUR vir finansies, me. Gadidja Brown, het met die begroting wat vandag ter tafel gelê is opnuut gewys dat die ANC se eie prioriteite bo dié van die belastingbetalers gestel word.
Brown misluk weereens daarin om die provinsie se salarisrekening te beperk. Meer as 64% van die provinsie se totale begroting van R41,844 miljard sal aan salarisse bestee word.
Die provinsiale tesourie verwag dat dit aanstaande jaar tot 65% van die begroting sal uitmaak.
Dit terwyl onbevoegdheid en swak diens in die staatsdiens ‘n geweldige probleem is wat dienslewering al hoe meer lamlê.
Dit is onaanvaarbaar dat die salarisrekening byvoorbeeld kapitale besteding aan broodnodige infrastruktuur sal oorskry.
Slegs 11% van die begroting sal aan infrastruktuur bestee word, terwyl die provinsie se infrastruktuur besig is om in duie te stort.
Die ANC se beleid van werkskepping in die staat kos vuisvoos belastingbetalers al hoe meer terwyl dienste en infrastruktuur kwyn.
Die begroting vir die herstel van die Vrystaat se haglike paaie is ewe ontoereikend en sal hoegenaamd nie die probleem oplos nie.
Die departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) sal sowat R40 miljoen ontvang om munisipaliteite met finansiële bestuur by te staan.
Verskeie munisipaliteite in die Vrystaat is in die afgelope paar jaar onder provinsiale administrasie geplaas, waartydens hierdie munisipaliteite selfs verder agteruitgegaan het.
Dit sal dus in ‘n vrugtelose en verkwiste uitgawe ontaard, omdat die ANC bewys het dat hy nie in staat is om munisipaliteite te bestuur of reg te ruk nie.
Die Vrystaat se geskatte inkomste van R1,8 miljard vir dié finansiële jaar, is nie genoeg om aan die tekort te voldoen en drukkende behoeftes, soos die toestand van paaie, aan te spreek nie.
Die Vrystaat sal ‘n provinsie op die randjie van bankrotskap bly so lank as wat die ANC regeer.
Die mense van die Vrystaat verdien beter.