Die Vryheidsfront Plus verwelkom die nuutste verwikkeling by die Vrede-suiwelskema, naamlik dat melkproduksie drasties gestyg het en dat die diere se kondisie van so aard verbeter het dat hierdie projek volgens berigte nou produktief melk kan lewer.
Die feit dat mnr. Quintin Blom, wat ondervinding van melkery het, aangestel is, word verwelkom. Hierdie aanstelling dien as bewys dat mense met die nodige vaardighede en kundigheid aangestel moet word in posisies en aanstellings nie bloot op grond van ras gedoen moet word nie.
Die VF Plus is van mening dat die spog met die verbetering van die Vrede-suiwelskema voortydig is, maar sal wel binnekort hierdie projek weer besoek om deeglik vas te stel of belastingbetalers se geld nou produktief aangewend word en of voedselsekuriteit hierdeur bevorder sal word. Die regering sal meer vaardige mense moet aanstel om sodoende kommersiële eenhede te vestig wat volhoubaar kan voortbestaan.
Die VF Plus doen alreeds 'n geruime tyd 'n ernstige beroep op die regering dat regstellende aksie afgeskaf moet word sodat persone op meriete aangestel kan word en die beste moontlike uitkoms veral ten opsigte van dienslewering bewerkstellig kan word.
Die VF Plus sal die projek deurgaans monitor om te verseker dat die miljoene rande van belastingbetalers se geld wat reeds op die projek bestee is, nie verlore gaan nie en 'n bate vir landbou in die Vrystaat sal wees.
Jan van Niekerk
083 743 2042