Ertsvragmotors wat roekeloos deur Hazyview in die Mbombela-plaaslike munisipaliteit (Nelspruit, Witrivier, Barberton, Hazyview) jaag, is besig om chaos in die dorp te veroorsaak en is lewensgevaarlik.
Die VF Plus het etlike klagtes ontvang wat aandui dat hierdie vragmotors verkeersregulasies ignoreer.
Dit sluit in vragmotors wat eenvoudig nie by rooi verkeersligte en stopstrate stop nie.
Die enigste oplossing is 'n sterker sigbare polisiëring.
Die VF Plus het op 23 Februarie 2022 vrae vir skriftelike antwoord gestuur aan die burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid, Jackson Mhlanga, oor verkeersbeamptes wat nie die verkeer kan monitor nie weens die groot tekort aan patrollievoertuie in Hazyview.
Daar word van tot vyf wetstoepassers verwag om in een voertuig te reis. Dit beteken daar kan net op een gebied gefokus word om motoriste te beboet vir relevante oortredings.
Hierdie vrae is tot op hede nie beantwoord nie.
Die tyd het aangebreek dat daar sanksies is teen burgemeesterskomiteelede wat nie vrae beantwoord wat aan hulle gerig word nie.
Die inwoners van Mbombela verdien beter.