Die vragmotorongeluk vanoggend by die Pinehaven-kruising in Krugersdorp, waar die N14 en R28 kruis, kan deels voor die deur van die Gauteng-regering en Eskom gelê word.
Beurtkrag kon ‘n bydraende faktor tot die ongeluk gewees het omdat dit tydens beurtkrag plaasgevind het toe die verkeerslig buite werking was.
Die Gautengse provinsie het ook sowat 13 jaar gelede begin met die beplanning van ‘n oorbrug 600m ná die Pinehaven-kruising om toenemende ongelukke en lewensverlies te voorkom.
Dit het egter nog nie gerealiseer nie.
Intussen het die Gautengse departement van paaie en vervoer verkeersligte en ‘n noodbaan wat in ‘n sandput eindig langs die N14 aangebring.
Die ongeluk vanoggend het plaasgevind toe ‘n vragmotorbestuurder vermoedelik beheer verloor het oor sy voertuig wat bourommel vervoer het. Hy was vanuit Krugersdorp bergaf in die rigting van Pretoria.
Hy het teen ‘n ander vragmotor en twee motors gebots.
Beide motorbestuurders is oorlede en die vragmotorbestuurders ernstig beseer. Een van die vragmotors het aan die brand geslaan. Motorwrakke het oor ‘n groot gebied gestrooi gelê.
Die Pinehaven-kruising is die grootste verbindingsroete in Gauteng tussen Johannesburg, Pretoria, Krugersdorp en Rustenburg.
Weens Gauteng se gesloer het plakkers hulle op die grond waar die oorbrug gebou moes word, gevestig. Hulle is intussen verwyder, maar het weer teruggetrek.
Die VF Plus is van mening dat die regering geen erns het om die lewe van mense te beskerm of voorsorg te tref om lewensverlies te voorkom nie.
Die VF Plus sal die Mogale City-verkeersafdeling versoek om streng beheer voor en in die kruising toe te pas om te voorkom dat taxi-bestuurders in die noodbaan ry wat vir swaar voertuie bedoel is.