Daar sal niks kom van die ANC se beloftes om basiese dienslewering by munisipaliteite op te knap as dienstegelde nie ingevorder word en bevoegde mense nie in sleutelposte aangestel word nie, sê dr. Pieter Groenewald, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor samewerkende regering en tradisionele sake.
Dr. Groenewald het vandag met dié departement se begrotingsposdebat in die parlement gesê die ANC-regering, wat meer as 80 persent van alle munisipaliteite in Suid-Afrika bestuur, maak nou uitsprake dat daar teruggekeer moet word na die grondbeginsels van plaaslike regering deur die basiese dinge reg te doen.
Hy sê dit beteken egter nie om verskillende munisipaliteite soos Tlokwe en Ventersdorp te laat saamsmelt om verkiesingsuitslae te manipuleer nie.
“Dit het niks met die grondbeginsels van goeie bestuur te make nie. Dit wys bloot dat die ANC bang is vir die komende munisipale verkiesings.
“Grondbeginsels is om bevoegde amptenare aan te stel in poste waar hulle dienste kan lewer. Die ANC doen dit nie en die minister (Des van Rooyen) weet dit. Hy was burgemeester van Merafong waar daar ook nie bevoegde mense in strategiese poste aangestel is nie.
“By 47 persent van munisipaliteite in die land is geen ingenieur in diens nie. Dan word gevra waarom kinders in ‘n plek soos Bloemhof sterf omdat hulle vuil water drink. Dit is omdat daar nie ‘n ingenieur is wat kan seker maak dat die water suiwer is nie. Wat daar gebeur het, is op die minister se hande.
“Grondbeginsels is om mense te laat betaal vir basiese dienste soos water en elektrisiteit. Dit gebeur nie. Uitstaande dienstegelde in Suid-Afrika beloop al meer as ‘n R100 miljard. By die Matlosana-munisipaliteit in Noordwes beloop die uitstaande gelde meer as R1,5 miljard.
“Indien daardie gelde betaal word, sou dit beteken daar hoef vir die volgende jaar geen begroting of verhoging te wees nie aangesien daardie bedrag die totale begroting van die munisipaliteit uitmaak. Dit sou onnodig wees om enige dienstegelde vir ‘n volle jaar te betaal. Dit is die implikasie daarvan.
“Terug na die basiese beteken ‘n behoefte om ‘n diens aan die publiek en veral die belastingbetaler te lewer, maar die diens van munisipale amptenare en raadslede van veral die ANC is nie-bestaande,” sê dr. Groenewald.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403