Die VF Plus het ‘n dringende skrywe gerig aan die munisipale bestuurder van die Ekurhuleni-metroraad, dr. Imogen Mashazi, om haar te versoek om ondersoek in te stel na lamppale in die metro waarvan die elektriese bedrading nie bedek is nie en ernstige gevolge kan inhou.
Dit volg op ‘n voorval waarin ‘n sesjarige leerder van die Laerskool Goudrand in Boksburg-Noord geskok is nadat sy aan ‘n lamppaal se lewendige kragdrade geraak het. Die skooldogter het saam met haar ma van die skool huis toe gestap toe dit gebeur het.
Die VF Plus het die Ekurhuleni-metroraad al gewaarsku om dringend aandag te gee aan die probleem met lewendige kragdrade by lamppale en mangatdeksels wat gesteel word en waar die oop gate ook ‘n bedreiging inhou.
In die metro se begroting vir die 2021/22-finansiële jaar is R5.4 miljoen aan die energie-departement bewillig wat in besonder aan elektriese beligting bestee moet word. Dit laat die vraag ontstaan waar hierdie geld bestee is veral gemeet aan die groot aantal lamppale rondom skole waar elektriese bedrading nie bedek is nie.
Hierdie dien as bewys dat die metroraad nie die belange en veiligheid van inwoners vooropstel nie en eers sal optree wanneer daar ‘n noodlottige voorval is.
Inwoners het die geleentheid om op 1 November saam met die VF Plus teen die wanbestuur en verval van Ekurhuleni op te staan en ‘n sterk boodskap aan die ANC te stuur dat die situasie nie langer geduld sal word nie.
Navrae: 072 2171951