Tokologo-plaaslike munisipaliteit (Boshof, Dealesville en Hertzogville) kom nie sy betalingsooreenkoms met Eskom na nie en betalende inwoners word nou gestraf weens die swak finansiële bestuur van die munisipaliteit. Gevolglik dreig Eskom tans met meer aggressiewe kragonderbrekings met soveel as 14 ure se beurtkrag vir inwoners wat getrou hul munisipale rekeninge betaal.
Die VF Plus het die Vrystaatse LUR vir finansies, me. Elsabé Rockman, versoek om dringend in te gryp in die kragkrisis wat inwoners van Tokologo-munisipaliteit ervaar as gevolg van die nie-nakoming van die betalingsooreenkoms van die munisipaliteit met Eskom.
Tokologo skuld die elektrisiteitsvoorsiener R36 miljoen.
Effektiewe munisipaliteite is die hardklop van die provinsie en as hulle misluk, misluk die Vrystaat.
Rockman was in die verlede betrokke by onderhandelinge tussen Eskom en Vrystaatse munisipaliteite om terugbetalingsooreenkomstes aan te gaan.
Meestal betalende inwoners word deur Eskom se onderbrekings geraak, aangesien inwoners in ander gebiede soos Malebogo buite Boshoff krag direk van Eskom koop.
Intussen staar die Masilonyana-munisipaliteit (Brandfort, Theunissen en Winburg) soortgelyke kragonderbrekings in die gesig met ‘n skuldlas van R48 miljoen.
Die VF Plus het Rockman ook versoek om, as deel van die 2018/2019-begroting wat sy op 7 Maart ter tafel sal lê, voorsiening te maak om agterstallige munisipaliteite te help om volhoubare maatreëls in plek te stel sodat betalende inwoners nie verder benadeel word nie.
Die Vrystaatse regering het in die premier se openingsrede beloftes van ekonomiese transformasie gemaak. Die beloftes bly egter lugkastele aangesien talle munisipaliteite in die provinsie nie basiese finansiële funksies kan verrig nie.
Kontaknommer: 082 490 6663