Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus vra Nasionale Kredietreguleerder om Zuma-huislening te ondersoek

Die VF Plus sal aanhou soek na antwoorde oor die lening van byna R8 miljoen aan pres. Jacob Zuma om sy deel van die opknappingswerk by Nkandla te betaal en het nou ook die Nasionale Kredietreguleerder gevra om vas te stel hoe die president met sy salaris so ‘n groot lening kon kry, sê adv. Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus.

Adv. Alberts het die Openbare Beskermer (OB) in Agustus verlede jaar versoek om die ondersoek te doen, maar die OB het nou geantwoord dat die Nasionale Kredietreguleerder in ‘n beter posisie is om die aangeleentheid te onderoek. Die VF Plus het so ‘n versoek tot die Kredietreguleerder gerig.

Ingevolge die destydse bevel van die OB moes pres. Zuma ‘n bedrag van R7,8 miljoen terugbetaal. Teen ‘n rentekoers van slegs 10% sal die terugbetaling R75 270 per maand beloop. Dit terwyl sy salaris voor aftrekkings R2,8 miljoen per jaar beloop.

Die lening is bekom van VBS Mutual Bank, voorheen bekend as die Venda Bouvereniging.

Volgens adv. Alberts is dit verontrustend dat die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), wat staatsamptenare se pensiengeld bestuuur, ‘n aandeel van 25,26% in VBS het.

“Die VF Plus sal nie toekyk dat die OBK se fondse deur iemand soos pres. Zuma as sy persoonlike spaarvarkie gebruik word nie. Dit is bloot nie moontlik dat die president met sy salaris byna R8 miljoen kon leen nie.

“Die VF Plus is vasbeslote om ‘n antwoord hieroor te kry en sal die ondersoek van die Kredietreguleerder fyn monitor,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.