Die VF Plus is tevrede met die afdanking van Tshwane se metropolisiehoof, Steven Ngobeni.
Awie Erasmus, VF Plus-raadslid in die Tshwane-metroraad, het egter daarop gewys dat die VF Plus reeds in die begin van 2016 ‘n klag by die Openbare Beskermer ingedien het wat Ngobeni betrek.
“Die ondersoek gaan voort. Indien onreëlmatigheid bewys word, sal Ngobeni steeds verantwoordelik gehou word al is hy nie meer in die diens van die metropolisie nie, het Erasmus gesê.
Erasmus het verder die stadsraad aangemoedig om ook voort te gaan met hulle eie interne ondersoeke en dat Ngobeni se ontslag geensins die ondersoeke moet stop nie.
“So sal die waarheid ontbloot word rondom die afgedankte hoof asook moontlike ander persone wat betrokke mag wees by onreëlmatighede.
“Ngobeni het onlangs nie ‘n direkte opdrag uitgevoer gedurende die stad se eerste stadsrede nie. Ngobeni het gedurende dié belangrike vergadering geen poging aangewend om oproerige ANC-lede in toom te hou nie. Die metropolisie het geweier waarna die burgemeester van Tshwane, Solly Msimanga, die vergadering noodgedwonge na ‘n nabygeleë eetsaal moes skuif.
“Die VF Plus gaan die klag by die Openbare Beskermer onder die aandag van die burgemeester bring wat tot verdere afdankings kan lei. Deel van die koalisie-ooreenkoms was om korrupsie op alle vlakke uit te roei en hierdie is nog ‘n stap nader aan ons doel,” het Erasmus bygevoeg.
Tel: 072 815 4053