fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus verwelkom teer van grondpad tussen Williston en Fraserburg

Die VF Plus verwelkom die Noord-Kaapse departement van openbare werke en paaie se planne om in April te begin om die grondpad tussen Williston en Fraserburg in die Karoo Hoogland-plaaslike munisipaliteit te teer.

Die Karoo Hoogland-munisipaliteit bestaan uit die dorpe Williston, Fraserburg en Sutherland wat almal sowat 100km van mekaar geleë is en met grondpaaie verbind word.

Sutherland is wel met ‘n teerpad aan Matjiesfontein verbind en die pad tussen dié dorp in Calvinia word ook tans geteer. Matjiesfontein is in die Wes-Kaap en Calvinia in die Hantam-plaaslike munisipaliteit.

Die pad tussen Fraserburg en Beaufort-Wes, wat in die Wes-Kaap geleë is, is ook geteer.

Die Karoo Hoogland-munisipaliteit beslaan ‘n oppervlak van sowat 30 230km² en sy uitgestrektheid is duidelik indien dit vergelyk word met Gauteng wat ‘n oppervlak van 18,176km² beslaan.

Weens redes soos die klimaat in die streek, is daar min ekonomiese ontwikkeling.

Dit is die VF Plus se mening dat die teer van die paaie die potensiaal van die munisipaliteit as toerisme-bestemming kan ontgin vir ‘n broodnodige ekonomiese inspuiting.

Die sterrewag by Sutherland en die radioteleskoop rondom Williston en die buurdorp, Carnarvon, skep moontlikhede vir astro-toerisme, veral as daar goeie padinfrastruktuur bestaan.

Paaie in hierdie deel van die Noord-Kaap ding mee met roetes wat mynbougebiede met uitvoerhawens verbind. Daarom is dit verblydend dat hierdie paaie wel nou bo-aan die lys is.

Die VF Plus voorsien positiewe ekonomiese groei en werkskepping in die dorpe wanneer goeie paaie meer beleggers en toeriste lok en sal druk uitoefen dat die grondpaaie vanaf Sutherland na Williston en Fraserburg ook geteer word.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.