Die VF Plus verwelkom die opheffing van alle regulasies wat verband hou met die Covid-19-pandemie wat die land en sy mense enorme skade berokken het.
Die VF Plus se stryd teen die regulasies het reeds in 2020 met die uitbreek van die pandemie begin. In die afgelope twee jaar het die party hom onder meer tot die howe gewend vir die afskaffing van die regulasies.
Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het ‘n privaatlid-wetsontwerp by die parlement ingedien om die Rampbestuurswet te wysig om mag van die regering weg te neem en te plaas in die hande van die parlement sodat voldoende oorsig kon plaasvind oor besluitneming rondom regulasies.
Die VF Plus het hom gereeld in die parlement se portefeuljekomitee vir gesondheid en ander komitees asook in die Nasionale Raad van Provinsies uitgespreek teen die regulasies, inperkings, gedwonge inentings en ‘n ontoereikende inentingsprogram.
Die party het ook voortdurend in beide huise van die parlement die aangeleentheid te berde gebring om die regering tot verantwoording te roep oor die reuse skade wat ondeurdagte regulasies aan die ekonomie en die arbeidsmark aangerig het.
Meer onlangs – in April vanjaar – het die VF Plus hom sterk uitgespreek teen die voorgestelde gesondheidsregulasies en het herhaaldelik die minister van gesondheid, dr. Joe Phaahla, versoek om die regulasies te onttrek.
Die regering het nou eindelik tot sy sinne gekom nadat groot openbare weerstand teen die regulasies opgelaai het. Die regering kon nie meer argumente voer oor hoë infeksiesyfers, hoë hospitalisasiesyfers en ‘n hoë sterftekoers nie.
Die herstelkoers van 97% wat nou al ‘n paar maande voortduur, het finaal die regering se argumente ten gunste van inperkings die nek ingeslaan.
Die volledige normalisering van omstandighede in verskeie ander lande en dreigende regsaksies het die druk op die regering verder verhoog.
Die VF Plus bedank elke landsburger en organisasie wat voortdurend teen die inperkings en die regulasies opgestaan het. Dit bewys dat ‘n verenigde front teen die regering wel kan slaag.
Die party bedank ook alle gesondheidswerkers wat die grootste spit afgebyt het en soms onder haglike toestande in die openbare sektor moes werk om lewens te red. Hulle is ware helde en sal altyd so onthou word.
Suid-Afrikaners het baie geleer en opgeoffer gedurende hierdie beproewende tydperk. Die regering moet kennis neem daarvan dat hy in die toekoms nie kan maak soos hy wil sonder om die wil van die mense in ag te neem nie.
Dit is jammer dat die regerende party en sy verkose lede hulle in hierdie krisistyd skuldig gemaak het aan erge vergrype en korrupsie. Die VF Plus sal sy deel bydra om te sorg dat die skuldiges aan die pen ry en dat reg geskied.