Die sterk groei van die VF Plus in die algemene verkiesing het daartoe gelei dat mnr. Fanie Du Toit, VF Plus-onderleier in Noordwes en raadslid in die JB Marks-plaaslike munisipaliteit en die Dr. Kenneth Kaunda-distriksmunisipaliteit, verkies is tot lid van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP).
Du Toit is die jongste van drie kinders, gebore in Klerksdorp in die Noordwes-provinsie. Hy het in 1999 aan die Hoër Tegniese Skool Klerksdorp gematrikuleer. Op skool het hy uitgeblink as leier op sport- en kultuurgebied en was hy ‘n lid van die leerlingraad en onderhoofseun. Hy was ook lid van Suid-Afrika se junior-parlement.
Du Toit is 'n entrepreneur en is die afgelope vyftien jaar in die vervaardigingsbedryf waar hy ook fabrieksbestuurder was en arbeidsverhoudinge en vervaardiging bestuur het.
Hy is sedert 2016 VF Plus-raadslid in die JB Marks-plaaslike munisipaliteit waar hy as koukusleier vir die party opgetree het. Hy het ook sedert 2016 gedien as raadslid in die Dr. Kenneth Kaunda-distriksmunisipaliteit.
Hy dien tans in die dagbestuur van die VF Plus se Provinsiale Partyraad in Noordwes, in die provinsie se regskomitee en in die party se federale raad. Hy is in 2018 tot ondervoorsitter van die VF Plus in Noordwes verkies. Hy woon in Potchefstroom en is ‘n trotse eggenoot en vader.
Die nuwe raadslid in die JB Marks-plaaslike munisipaliteit is mnr. Matthys van Tonder. Hy is sedert 2009 ‘n politieke aktivis en is in 2011 verkies tot wyksraadslid in die Wes-Rand waar hy gedien het op die gesondheid- en maatskaplike werk-portefeulje en later ook op die openbare rekeninge-komitee in die raad.
Van Tonder het in 2016 by die VF Plus aangesluit nadat hy verhuis het na Potchefstroom. Sedert 2017 dien hy op die provinsiale regskomitee van die VF Plus in Noordwes. In 2019 staan hy as kandidaat op provinsiale vlak van Noordwes en op 8 Mei 2019 word hy verkies tot raadslid in JB Marks.
Mnr. Van Tonder beskou die belange van die VF Plus se kiesers as prioriteit en is gereed om hulle by te staan as verkose stadsraadslid.
Kontaknommer: 079 409 8342