Die VF Plus verwelkom die aankondiging van die minister van gesondheid, Joe Phaahla, dat hy voorleggings aan die Covid-19-bevelsraad gemaak het om die regulasies te onttrek en dat hy ook insette gevra het van die onderskeie provinsiale LUR’e.
Luidens ‘n skrywe wat die minister uitgereik het op 20 Junie 2022, stel hy voor dat die dra van maskers in die openbaar en die beperkings op geleenthede opgeskort word asook dat weggedoen word met reisregulasies na Suid-Afrika.
Die VF Plus het herhaaldelik in die parlement en tydens die indiening van kommentaar teen die regulasies dit aan die minister gestel dat die gesondheidsregulasies onttrek moet word.
Ook dat kommentaar van die publiek en ander belanghebbendes op daardie tydstip ‘n baie duidelike boodskap geuiter het dat daar wye teenstand teen die regulasies bestaan en dat die publiek nie gelukkig is met die regulasies nie.
Die regulasies was niks anders nie as ‘n verskuiwing van ANC-mag en het totaal en al neergekom op magsmisbruik van die regering.
Die VF Plus spreek die hoop uit dat die bevelsraad en die kabinet hierdie keer die regte besluite sal neem deur die regulasies te onttrek.
Suid-Afrika moet op die pad van herstel gebring word nadat enorme skade aangerig is aan die ekonomie en mense se welstand deur sinnelose inperkings en regulasies van die afgelope twee jaar.