Mnr. Hannes Schutte, ‘n wetgewerlid van die VF Plus in Noordwes, verteenwoordig die Noordwes-provinsie by ‘n internasionale kongres vir wetgewers wat hierdie week in Seattle, Washington, aangebied word.
Die kongres vind jaarliks plaas en as voorsitter van Noordwes se staande komitee oor wetgewersake, was mnr. Schutte, ‘n voormalige ingenieur van beroep, die aangewese persoon om die provinsie te verteenwoordig.
Volgens mnr. Schutte woon sowat vierhonderd afgevaardigdes van meer as veertig lande die kongres by, en daar is onder andere mense van Duitsland, Frankryk, Engeland, Amerika, Brasilië en verskeie lande in Afrika.
Mnr. Schutte sê benewens dit wat op die kongres bespreek word rakende infrastruktuur en die onderhoud daarvan, is die informele interaksie tussen kongresgangers ook waardevol om praktiese idees uit te ruil oor die rol van infrastruktuur in ‘n land se ekonomiese vooruitgang.
“Wat duidelik blyk uit die gesprekke is dat Suid-Afrika wel mense het wat oor die nodige kennis en ervaring beskik, maar dat dié kennis tans ter wille van onkundige kader-aanstellings hoegenaamd nie gebruik word nie.
“Indien hierdie kundigheid ontgin word, kan Suid-Afrika weer 'n ekonomiese voorbeeld vir ander Afrika-lande word. Dit is baie belangrik dat hierdie boodskap by die ANC-bewindhebbers uitkom,” sê mnr. Schutte.
Mnr. Hannes Schutte
Kontaknommers: 079 838 6587 / 083 419 5403