Die VF Plus het vandag in die parlementêre portefeuljekomitee vir gesondheid sterk daarop aangedring dat die parlement die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, moet dwing om voor die komitee te verskyn oor die Digital Vibes-skandaal.
Die VF Plus het gereageer op ‘n nuttelose verslag wat die direkteur-generaal van gesondheid, dr. Sandile Buthelezi, voor die komitee gebring het oor die Digital Vibes-kontrak.
Die VF Plus het versoek dat die portefeuljekomitee ingevolge parlementêre reël 167(a) ‘n verslag hieroor aan die speaker van die parlement moet stuur om te versoek dat Mkhize gedagvaar word om voor die komitee te verskyn.
Die speaker moet dan konsulteer met al die partye in die parlement se swepe en indien daar ooreenstemming is, moet die speaker ‘n dagvaarding om voor die komitee te verskyn laat aflewer aan Mkhize deur middel van ‘n geregsbode.
Kragtens dié parlementêre reël kan 'n portefeuljekomitee, ingevolge die Grondwet, wetgewing en ander bepalings van parlementêre voorskrifte, enigiemand beveel om voor hom te verskyn om getuienis onder eed of bevestiging af te lê, of om dokumente voor te lê.
Die VF Plus het dit ook duidelik gestel dat die waarnemende minister, me. Mmamoloko Kubayi-Ngubane, hoegenaamd nie in staat is om inligting oor die saak aan die komitee te verskaf nie en dat net een persoon vrae oor Digital Vibes kan beantwoord en dit is Zweli Mkhize self.
Die VF Plus het die komitee daarop gewys dat die parlement se regsafdeling reeds op 6 Junie 2021 in ‘n verslag gemeld het dat die komitee ‘n grondwetlike verpligting het ingevolge Artikels 55(2) en 92(2) van die Grondwet om die minister tot verantwoording te roep.
Die ANC het weer wal gegooi om te keer dat hierdie roete ingeslaan word. Die VF Plus sal nogtans aanhou om daarop aan te dring dat Mkhize self verskyn om te antwoord op die bewering teen hom.