Die VF Plus veroordeel die Gauteng-regering se weerhouding van ‘n dienslisensie aan die ambulansdiens van die Tshwane-metro.
Die VF Plus beskou dit as skandelik en as bewys dat die provinsiale regering en die administrateurs van die metro nie omgee vir die publiek nie.
Daarbenewens het die Gautengse departement van gesondheid die afgelope agtien maande geen subsidie aan die Tshwane-metro vir ambulansdienste betaal nie. Ten spyte daarvan het die metro voortgegaan om steeds die publiek te dien.
Die weerhouding van die dienslisensie is die kersie op die koek. Alhoewel die Gautengse departement van gesondheid ook 'n ambulansdiens in die metro bied, is dit nie naastenby voldoende om in die inwoners van Tshwane se behoefte aan ambulansdienste te voorsien nie.
Die Gautengse departement van gesondheid kon dieselfde lisensie, soos uitgereik aan privaat ambulansdienste, aan die Tshwane-metro uitgereik het.
Hierdie weerhouding van ‘n ambulans-dienslisensie vind plaas terwyl die aantal Covid-19-gevalle drasties in die Tshwane-metro en in Gauteng styg. In die konteks is die optrede van die Gautengse regering irrasioneel en roekeloos.
Dit bewys dat die ANC-regering in Gauteng en sy onwettige administrateurs in Tshwane nie omgee vir die mense van Pretoria en omgewing nie. Hulle moet so gou as moontlik verwyder word.
Die VF Plus sal dringend met die departement van gesondheid skakel om die kwessie aan te spreek.
Navrae: 083 448 9473