fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus veroordeel beplande mynbedrywighede by Potchefstroom se hoof-waterbron

Die VF Plus veroordeel ten sterkste enige poging van mynmaatskappye om in die omgewing van Gerhard Minnebron, Potchefstroom se hoofbron van water, met mynbedrywighede te begin.

Die VF Plus is in die proses om as ‘n geaffekteerde party te registreer nadat Sunshine Mineral Reserves (Sunshine), ‘n kennisgewing van sy voorneme om in die gebied buite Potchefstroom te prospekteer, gepubliseer het.

Belanghebbendes kan tot 30 Junie as geaffekteerde partye registreer en beswaar aanteken.

Gerhard Minnebron is ‘n natuurlike oog wat sowat 73 % van Potchefstroom se vars water voorsien en is die grootste natuurlike waterbron van sy soort in die suidelike halfrond. ‘n Groot deel van die plaaslike landbou-gemeenskap is ook afhanklik van water uit hierdie standhoudende bron.

Die bron is ook geleë in ‘n ekologies sensitiewe gebied met baie dolomiet in die omgewing. Enige mynbedrywighede deur Sunshine in die omgewing sal die grondstruktuur versteur en ‘n direkte, onomkeerbare, negatiewe impak op Gerhard Minnebron en ander grondwater hê.

Besoedeling van hierdie water met gevaarlike swaarmetale sal ‘n gegewe wees. Dít in ‘n land wat reeds gebuk gaan onder druk op ons watervoorsieningsbronne.

Dit is byna ondenkbaar dat enige mynmaatskappy dit enigsins kan oorweeg om só ‘n belangrike natuurlike hulpbron vir winsbejag te bedreig ten spyte van die ooglopende negatiewe impak op die plaaslike gemeenskap en omgewing.

Alhoewel ekonomiese ontwikkeling en werkskepping van kritieke belang vir die land is, bly dit noodsaaklik dat enige ontwikkeling só gedoen word dat dit nie skadelik is nie.

Die VF Plus sal voortgaan om te stry teen hierdie en enige ander roekelose optrede deur maatskappye wat skaars natuurlike hulpbronne bedreig.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.