fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus verdoem optog van EFF by Laerskool Danie Malan en lê skuld voor deur van Lesufi en sy onderwysdepartement

Die VF Plus verdoem die optog en sluiting van die skoolhek van Laerskool Danie Malan in die noorde van Pretoria deur EFF-lede.

Die EFF-lede eis dat hul kinders in die skool toegelaat word, terwyl die skool reeds vol is. 'n Paar dae gelede het EEF-lede ook voor Hoërskool Akasia, waarvan die meerderheid leerders swart is, betoog om toelating.

Die VF Plus beskou die betogings en die eise tot toegang as die direkte gevolg van die gebrek aan voldoende skole in Pretoria-Noord en sal met die Gautengse departement van onderwys skakel om te verneem hoe hulle die probleem gaan oplos.

Die departement, onder leiding van die LUR, Panyasa Lesufi, sukkel al 'n geruime tyd om sy infrastruktuur-doelwitte na te kom met die gevolg dat skoolgemeenskappe dan teen mekaar opgestel word. Die skep van die omgewing vir onrus rondom skole in Pretoria-Noord moet voor die deur van Lesufi en sy departement gelê word.

Alhoewel Lesufi vroeër aan die onderwyskomitee van die Gautengse wetgewer dit onomwonde gestel het dat daar eintlik genoeg skole in die provinsie is vir die totale aantal leerders, is daar gedurig probleme in Pretoria-Noord om leerders geplaas te kry.

Dit blyk 'n area onder toevoer-druk te wees en daarom moet die departement dringend daaraan aandag gee ten einde bestaande skole en skoolgemeenskappe te beskerm. Indien die kwessie nie gou aangespreek word nie, kan daar 'n ongelukkige eskalasie van konflik plaasvind.

Intussen het die bestuur van Laerskool Danie Malan aansoek gedoen om 'n interdik teen die organiseerder van die EFF-betoging voor die skool. Daar was blykbaar reeds vroeër ook 'n interdik teen die persoon gekry omdat hy bekend is vir die reël van betogings voor die skool.

Die VF Plus gaan onmiddellik met Lesufi en die onderwysdepartement skakel om te sorg dat hierdie ongesonde omgewing wat konflik skep uit die weg geruim word.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.