Die VF Plus steun die hewige versetreaksie teen die beoogde hofaksie wat daarop gemik is om ses Suid-Afrikaanse skole te verbied om Christenwaardes by die skole uit te leef aangesien dit indruis teen die wese van demokrasie in die land, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor basiese onderwys.
Volgens adv. Alberts is die reaksie vanuit kerklike kringe en in die sosiale media ‘n bewys dat die hofaksie van ‘n groep onder die voorsitterskap van Johannes De Klerk Pietersen allerweë beskou word as ‘n heksejag op Christenskap.
Prof. Nelus Niemand, moderator van die NG Kerk in Suid-Afrika, het aan die VF Plus gesê dié kerk voel so sterk oor die aangeleentheid dat hy hom sal voeg as ‘n Vriend van die Hof in die saak.
Hy sê ook hy sal dit verwelkom indien die saak eindelik in die Grondwethof bereg word sodat daar finaal uitspraak daaroor gegee kan word.
Adv. Alberts sê dit is duidelik dat die saak godsdiensvryheid bedreig en indruis teen die ‘wese van demokrasie’.
“Godsdiensvryheid is van kardinale belang in Suid-Afrika. Dit is deel van enige volwasse demokrasie. In model-C skole geld die beginsel van ouerlike inspraak, bestuur en demokrasie. In daardie skole geld die meerderheidstem en word die etos van die skole op daardie wyse bepaal.
“Die skole is eintlik publieke/privaat-vennootskappe aangesien die ouers ook finansieel tot die skole bydra. Om teen hierdie agtergrond die meerderheidstem in opvoedkundige instansies te wil doof, druis in teen die grondwetlike beginsels van deelnemende demokrasie.
“Daar rus egter ‘n plig op skole en beheerliggame om ook minderhede in daardie skole te beskerm en vryheid van keuse toe te laat. Dus moet leerlinge wat nie deel van enige godsdienstige aksie wil wees nie, die reg hê om daaraan te onttrek.
“Insgelyks moet skole en beheerrade sorg dat genoegsame dissipline bestaan om ‘n geboelie op enige grondslag aan te spreek, of dit nou ontstaan weens nie-deelname aan godsdienspraktyke, of andersins. Boelies vind vele verskonings vir hulle dade en die motief daarvan is nie beperk tot net godsdienspraktyke nie.
“Die organisasie se hofaksie is dus verkeerd gemotiveer en is net daarop gerig om een lewensbeskouing met ‘n ander te vervang.
“Leerlinge moet kan leer van die verskillende lewensbeskouinge wat bestaan, maar ‘n demokraties-verkose beheerliggaam moet ook die reg hê om sekere praktyke wat strook met hul lewensbeskouing, te kondoneer,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403