fbpx
Vryheidsfront Plus
Vryheidsfront Plus

VF Plus staan lank reeds aan voorpunt van minderhede se stryd teen diskriminasie en regstellende aksie

Openbare verset teen regstellende aksie is besig om momentum te kry en die VF Plus, wat ‘n politieke alleenstryd teen dié diskriminerende beleid voer, sal uitreik na minderhede wat die ANC-regering in toenemende mate hieroor aanvat, sê dr. Corné Mulder, die VF Plus se leier in die Wes-Kaap.

Dr. Mulder sê daar is veral in bruin geledere tans groot ontevredenheid oor die regering se konsepregulasies oor regstellende aksie. 'n Sterk bewoorde petisie teen die regulasies word tans vir ondertekening onder kerke, partye en kultuurorganisiasies landswyd versprei. 

Gemeenskapsleiers soos Peter Marais is aktief betrokke in die stryd teen wat genoem word omgekeerde rassisme en die marginalisering van minderhede, veral in die Wes-Kaap waar bruin en wit reeds aan die kortste end trek met die toepassing van die nasionale demografie in die werkplek.

Ter aansluiting hierby bied ‘n groep met die naam Concerned Citizens of South Africa komende Vrydag ‘n Ope Dag aan by die Jack Muller-Park in Bellville met die tema Menseregte en die Regte van Minderhede. Verskeie bekendes gaan oor die onderwerp gesels en die VF Plus gaan ook daar wees.

Almal word na die dag uitgenooi wat vermaak vir oud en jonk gaan aanbied in die vorm van kosstalletjies, waterglybane, springkastele, ‘n verskeidenheid diere, veteraanmotors en vele meer.

Volgens dr. Mulder sal die VF Plus aktief inskakel by aksies wat die saak van minderhede bevorder, en sal daarom ook die huidige petisie teen die gewysigde regulasies van die Wet op Gelyke Indiensneming (wet 47 van 2013) wat in Januarie deur die minister van arbeid, Mildred Oliphant, gepubliseer is, steun.

Die regulasies is strydig met die hofsaak wat Wes-Kaapse werknemers van die departement van korrektiewe dienste (DKD) verlede jaar gewen het nadat die DKD die nasionale demografie toegepas het in die bevordering van beamptes.

Wat bruin mense aanbetref, sal die effek van die nuwe regulasies die hardste tref in die Wes- en die Noord-Kaap. Bruines, wat 9% van die nasionale bevolkingsyfer uitmaak, sal dus net in aanmerking kom vir 9% van die top-poste by maatskappye met meer as 150 werkers terwyl hulle 49,6% van die Wes-Kaapse inwoners uitmaak.

Peter Marais, voormalige Wes-Kaapse premier en ondervoorsitter van die Bruin Bemagtigingsbeweging (BBB), sê die gegriefdes wil die kwessie op ’n agenda van die Verenigde Nasies (VN) se komitee oor rassediskriminasie plaas.

Marais sê die regulasies diskrimineer teen inheemse groepe wat volgens die VN “eerstenasiestatus” moet geniet met die nodige erkenning van hul regte.

Volgens dr. Mulder spreek die belangrikheid van die minderhede se stem oor die aangeleentheid duidelik uit die feit dat Marius Fransman, Wes-Kaapse ANC-leier, hom teen sy eie partybeleid uitgespreek het in ‘n poging om bruin kiesers in die provinsie te paai. Ook die Wes-Kaapse DA-regering gaan ’n regsmening oor die grondwetlikheid van die konsepregulasies oor gelyke indiensneming inwin.

“Of minderhede in hierdie stadium gaan byt aan die eerlikheid van die ANC en die DA se motiewe, moet nog gesien word.

“Daarteenoor is die VF Plus se beleid teenoor regstellende aksie alombekend. Die VF Plus het reeds in November verlede jaar daarop gewys dat die DA self regstellende aksie toepas met sy aanstellings in die Wes-Kaap.

“In ‘n geskrewe vraag van die VF Plus het dit aan lig gekom dat aanstellings in die provinsie volgens ‘n kwotastelsel gedoen word. Net wat wit werknemers aanbetref, was die syfer 4% laer as die nasionale demografie en die swart syfer 4% hoër.

“Die VF Plus het deurlopend wette wat ras as grondslag het teengestaan. Ons doen dit nie nou soos ander om bedenklike redes nie. Die ontevredenheid is besig om momentum te kry, en die VF Plus sal steeds saam met ander aan die voorpunt van hierdie stryd teen diskriminasie staan,” sê dr. Mulder.

 

Kontaknommers: 083 626 1497 / 083 419 5403

DEEL DIT:

jongste artikels

Matlosana Wyk 17

Chandré de Bruyn JOU KANDIDAAT VIR WYK 17 11 Oktober 2023 TUSSENVERKIESING MATLOSANA WYK 17 WILKOPPIES | DORINGKRUIN Dienslewering gaan agteruit en die DA-wyksraadslid het

LEES MEER

Matlosana Wyk 16

LEE-ANN SCOTT JOU KANDIDAAT IN WYK 16 11 OKTOBER 2023 TUSSENVERKIESING WYK 16 Wilkeville | Flimieda | La Hoff Dienslewering gaan agteruit en die DA-wyksraadslid

LEES MEER
Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.